My storie: Die syfer 41

Hannes Van Rensburg

Dankie vir die geleentheid om my storie met julle te deel en byvoorbaat dankie dat julle dit gaan lees.

In die begin van Januarie 1998 het ek wakker geword, en soos ek uit die bed wou opstaan, het ek op die vloer geval. Ek was verlam en is gediagnoseer met Guillian Barre sindroom – ‘n tipe auto immuun siekte.

Ek was ook in erge pyn – het nie geweet mens kan soveel pyn ervaar nie.

Soos ek verstaan, val jou eie teenliggaampies jou liggaam aan en vernietig die proteïne in jou rugmurg.

Die boodskappe van jou brein kom dan nie meer by jou spiere uit nie en dus werk jou spiere nie, en raak jy verlam.

Dit val ook jou organe aan. Gelukkig was my organe nie so erg aangetas nie.

Hulle het my so drie weke in Kimberley behandel, maar my toestand het stagnant gebly.

Die spesialis het omtrent met trane in sy oë, taktvol vir my gesê, dat ek miskien maar my sake en testament in orde moet kry.

Dit was baie erg. Dit is regtig verskriklik om te weet daar is ‘n goeie kans dat jy kan doodgaan. My kinders was 3 en 1 jaar oud.

Hulle besluit toe om my oor te plaas Bloemfontein Universitas toe.

Kort voor ek Bloem toe gaan, het ek een nag die heelnag deur gebid en God gesmeek en gepleit dat ek mag lewe.

Ek onthou toe later van Hiskia wat op sy doodsbed gebid het vir genade om nog langer te lewe en dat God hom 15 jaar ekstra gegee het.

Die masjien waaraan ek gekoppel was, en wat medisyne in my are laat vloei het, het so ‘n irriterende “beep”-geluid gemaak elke keer as dit ‘n druppel vrystel.

Wanneer dit leeg is, hou dit op beep en maak ‘n harde skree-geluid as teken dat dit ‘n nuwe dosis medisyne moet inkry.

So, net voor sonop was ek totaal gedreineer en bid toe dat God my asseblief so oud kan laat word soos wat die masjien nog kere gaan “beep” voor dit leeg is.

Toe begin ek tel en die masjien skree toe op 41 tellings.

Ek het vreemd rustig gevoel in my hart, en dankbaar – het geglo dat God 13 jaar tot my lewe sal byvoeg vanaf 28 tot 41.

‘n Dag of twee later is ek Bloemfontein Universitas toe waar hulle heelwat toetse en ondersoeke op my gedoen het.

Die uitslae het daarop gedui dat ek nie verder verswak nie.

Dit was basies al wat hulle vir my kon doen, ek moes huis toe gaan en my liggaam gaan hopelik begin terugbaklei.

Daarna het ek baie stadig begin herstel. Was nog so drie maande gedeeltelik verlam voordat ek kon sê ek kan weer loop, maar die pyn was altyd daar tot vandag toe nog, gelukkig minder. Vir 18 maande het my werkgewer ‘n bed in my kantoor laat sit – ek kon nie voltyds werk nie, was baie af-siek en het geen verhoging kon kry nie.  

Die mediese koste was baie hoog en my medies het nie alles betaal nie.

Na twee jaar was ek geskei en finansieel het dit baie sleg gegaan.

My gesondheid het nog steeds bietjie vir bietjie verbeter.

Later het ek na ‘n kleinerige dorp in die Noord Kaap getrek, Postmasburg, in die hoop op ‘n rustiger lewe en beter gesondheid.

Na ‘n paar jaar van voortploeter, het ek besef ek gaan nooit so finansieel herstel en voortuit kan gaan nie.

Eendag blaai ek in die Spar deur die Volksblad en my oog vang die daaglikse Bybelboodskap. Dit eindig met die woorde: “soms wil God hê jy moet ‘n sprong in die teenoorgestelde rigting neem.”

Die volgende dag doen ek aansoek vir werk in Johannesburg – die plek waarvoor ek die bangste was, en dus vir my die teenoorgestelde rigting voorgestel het.

Ek kry toe werk met my eerste aansoek, teen dubbel my salaris, en binne twee weke was ek in Johannesburg.

Ek het al my wêreldse besittings in my ou Toyota Corolla gelaai en Johannesburg toe gery en ‘n gemeubileerde woonstel in Turffontein gehuur.

Het ook nog heelwat skuld gehad.

My finansies het onmiddellik begin verbeter en my gesondheid nog steeds geleidelik beter geword, alhoewel ek so een keer elke twee jaar ‘n terugslag gehad het.

Soos ek ouer word, het die 41-storie heeltyd in my agterkop gebly. Ek was nog steeds dankbaar, maar dit het soos ‘n swaard oor my kop gehang.

Soos die tyd naderkom, het ek respekvol begin bid en God gevra of ek dalk langer mag lewe as 41 jaar.

Ek het in my hart geweet dat God my gebed daardie nag verhoor het – dit was dan nou al amper 13 jaar daarna en ek leef nog. Mag ek vir nog vra?

Ek was toe woonagtig in Edenvale en was die NG Kerk Edenvale se finansiële beampte. Ek was baie dankbaar dat ek basies normaal kon lewe en werk, en mens raak aan baie dinge gewoond, selfs aan konstante pyn.

Die Sondag voor ek 41 word, gaan ek kerk toe en gaan sit heel agter in NG Edenvale se kerk. ‘n Jongerige gesin wat ek glad nie ken nie kom sit langs my.

Na die dominee se preek sê hy dat iemand nou ‘n getuienis gaan lewer, en hier staan die man langs my op.

Hy vertel toe in sy getuienis hoe hy ‘n paar jaar gelede Guillian Barre-sindroom gehad het en amper gesterf het; hoe hy ernstig tot God gebid het en dat hy oorleef het en so goed herstel het om nou hier te kan staan.

Ek was absoluut stomgeslaan, ek kon dit eenvoudig nie glo nie – ek bedoel wat was die “odds”!

Toe die man terugkom en weer plaasneem, sê ek vir hom ek het ook Guillian Barre gehad.

Ons praat toe agterna ‘n bietjie en hy gee my sy e-posadres – dit was ‘n UJ e-posadres.

Ek skryf toe vir hom ‘n lang e-pos en vertel my verhaal en stuur dit vir hom, maar hy antwoord my eers ‘n maand later.

Sy ma vertel my later dat my e-pos by ‘n ander persoon uitgekom het – ‘n persoon wat baie siek was. Hierdie persoon het dit versprei na ander mense wat siek was en hulle het almal hoop gekry.

Na daardie Sondag was ek gevul met God se krag en ek was sommer positief, vol blydskap en dankbaarheid.

Twee en ‘n half maande later is ‘n familielid baie na aan my oorlede in ‘n ongeluk, wat verreikende gevolge vir my en ‘n paar ander mense gehad het. Dit het ‘n sneeubal-effek gehad wat my lewe drasties verander het. My grootste droom tot op daardie stadium het indirek hierdeur waar geword en ek het ook ‘n klomp verantwoordelikhede gekry en moes harder werk. Skielik het dit my getref, 41 is nie die einde nie – dit is die begin van ‘n heeltemal ander, nuwe lewe! Wil net noem dat ek geensins sê die ongeluk is veroorsaak deur my gebed nie – ‘n ongeluk is presies wat dit sê, ‘n ongeluk – meestal veroorsaak deur menslike foute.

My nuwe lewe was ontsettend besig en so twee jaar later kom ek by ‘n dokter uit wat sê ek moet gym toe gaan en stadig begin oefen.

Ek het Januarie 2013 begin oefen en toe tot en met Covid nie een keer ‘n terugslag gehad nie.

Na ‘n geleidelike begin met die oefeninge, het my gesondheid dramaties verbeter, tot so ‘n mate dat ek vyf keer ‘n week, so twee ure op ‘n slag, kon oefen – en dit geniet.

Ek het nog steeds pyn gehad, maar dit was hanteerbaar, het eintlik fisies goed gevoel.

Ek glo God praat met mens in ‘n taal wat jy verstaan. Syfers speel ‘n baie groot rol in my lewe en hoe ek dink oor goed.

Na my 41ste verjaardag, het ‘n ongelooflike ding begin gebeur – verskeie kere wanneer ek benoud of beangs gevoel het, het die syfer 41 skielik voor my opgeduik!

Bv. ek ry na ‘n stresvolle vergadering toe en terwyl ek bid vir sy hulp, kyk ek links en daar is ‘n nommer 41 op die huis waar ek verby ry.

Of ek stres en as ek na die tyd kyk is daar ‘n 41 in die tyd, hetsy minute of sekondes.

Dit het intussen letterlik al honderde kere met my gebeur – alles onwillekeurig.

Ek wil gou vir julle ‘n baie onlangse voorbeeld noem:

  1. Op Maandagaand, 7 Junie, begin ek hierdie getuienis tik. My vrou en die kinders is besig in die kombuis om toebroodjies te maak vir die skool se toebroodjieprojek. My vrou moet die volgende oggend vroeg ingaan kantoor toe en vra ons bediende om die boks toebroodjies uit te vat vir Irma Loots van ons kerk wat dit gaan kom oplaai en skool toe vat. Dinsdagoggend, eerste ding, lees ek deur my getuienis en ek dink: nee wag, ek beter hierdie 41-storie uithaal, want die mense gaan dalk dink ek oordryf. Die volgende oomblik toet ‘n kar buite. Die dame is by ons huis en ons bediende het verslaap. Ek maak die hek oop, sy trek in en ek gryp die boks toebroodjies en vat dit uit na haar toe. Ons gesels ‘n bietjie en laai die broodjies in haar kar se kattebak. Ek staan voor die garage toe sy uitry, en soos ek vir haar waai, sien ek haar motor se registrasienommer het die syfer 41 in! Ook letters, maar ja, ‘n baie duidelike 41. Toe het ek ook sommer moed gekry om my getuienis met julle te deel.

Om terug te kom na my fisiese gesondheid – in Maart 2020 was dit natuurlik Covid en harde lockdown, en ek kan nie meer behoorlik by gymoefen uitkom nie. Het probeer by die huis oefen, maar kon voel ek gaan geleidelik agteruit, en in Januarie vanjaar kry ek my eerste groot terugslag sedert 2012.

Ek moet sê, ek was baie moedeloos en hartseer dat ek teruggeval het na heelwat van my fisiese probleme, en het nogal jammer gevoel vir myself.

As ek reg onthou, het ds. Nico op die oggend van 7 Maart vanjaar sy eerste preek gedoen na sy fietsongeluk. Sy preek daardie oggend het my baie diep getref en weer moed gegee.

Toe ek die eerste keer die boodskap van “Adam’s Return” in Richard Rohr se boek gelees het, in ‘n artikel van Stephan Joubert, het dit ‘n baie groot indruk op my gemaak.

Nico het daardie Sondagoggend oor die vyf punte gepreek, nl: die lewe is hard; ek is nie belangrik is nie; my lewe gaan nie oor my nie; ek is nie in beheer nie; en dat ek gaan doodgaan.

Dit het beslis my siening van baie dinge verander.

Om toe sy preek daaroor te hoor, het my vertroos en laat voel ek is nie alleen nie – hy, en baie ander mense, is ook in so ‘n tipe bootjie. Soiets kan met enigiemand gebeur.

Dalk moet mens nie vra hoekom ek nie, maar eerder hoekom nie ek nie.

Ek doen nou so ‘n paar fisio-oefeninge op klein skaal, en gaan stap ook gereeld met my kierie.

Ek is baie ouer as my vorige terugslag en alles vat langer, maar ek hoop om so oor ‘n jaar weer te wees waar ek was.

My grootste uitdaging is om geduldig te wees en dit stap vir stap te vat.

Ek het darem al vordering gemaak vanaf Januarie tot nou toe.

Intussen is ek steeds elke dag dankbaar om te lewe!

Alle dank en eer aan God!

MY STORIE maak deel uit van ons gemeente se skryfprojek.  Skuilkrans NG Gemeente glo in die belangrikheid van elkeen se storie.  Dit is ten diepste ‘n getuienis van hoe God in jou lewe werk en dit versterk die liggaam van Christus.  Deel gerus jou storie deur dit te stuur aan Annabelle by kleingroep@skuilkrans.co.za   ‘n Foto of prentjie is ook welkom.

My Storie is ‘n skryfprojek in samewerking met ons Leef Weer Trauma en Beradingsentrum.  Leef Weer Trauma  is n beradingsentrum wat gratis berading gee aan die gemeenskap en aan gemeentelede.  Kontak ons gerus by 063 712 6346indien jy met iemand wil praat oor enige trauma of krisis

Terugvoer...