My Storie: Só hanteer ek die inperking

maxim-zhgulev-5tmItJfHkIc-unsplash

Deur: Daantjie Badenhorst

Dit is nou al omtrent ses weke sedert die staat van inperking weens die Corona-virus aangekondig is, en dit lyk asof dit nog baie lank gaan duur voordat dit in sy geheel opgehef gaan word.

Die vraag is nou net: hoe verwerk ‘n mens dit, en wat kan jy doen om nie heeltemal van jou kop af te  raak nie? Die verbod op die verkoop van sigarette en drank raak my hoegenaamd nie; ek beskou rook as ‘n skending van die tempel van die Heilige Gees en ek drink net matig. Ek het wel voorraad opgebou van my gunsteling alkoholiese drankie maar ek sal net nou en dan een daarvan drink en ek gryp beslis nie daarna as ek sleg voel nie.

As die inperking twintig jaar gelede plaasgevind het, weet ek sowaar nie hoe ek dit sou hanteer nie. Hoewel ek soms alleen is en verkies om met my eie dinge besig te wees, kan ek dit nie die heeltyd doen nie. Ek het interaksie met mense nodig, en ek is by die punt verby wat ek my gevoelens opkrop. Daarom is sosiale media vir my uiters belangrik. Ek is net op sekere platforms aktief; ek is op Facebook en WhatsApp en hoewel ek ‘n Instagram-profiel het, volg ek ander mense eerder as om self plasings te maak. Daarby kan ‘n mens nie tot dieselfde mate een tot een met iemand op Instagram as op Facebook gesels nie. Ek het my Twitter-profiel ‘n paar jaar gelede gesluit omdat ek almal wat my gevolg het, my plasings sou kon sien en ek niemand daarvan kon uitsluit nie.

Facebook en WhatsApp is ‘n ander saak. Ek het baie goed bevriend geraak met mense landwyd wat ek deur Facebook leer ken het; ek behoort aan ‘n paar geselsgroepe en ‘n paar groeplede het kort voor die inperking bymekaar gekom en baie lekker gekuier; asof ons mekaar jare lank al ken. Ek het self ook ‘n paar groepe gestig wat verband hou met my belangstellings en voorliefdes en ek gesels met ander mense wat in hierdie dinge belangstel. Ek glo aan gesonde debatvoering; as iemand se standpunt van myne verskil, kan daardie persoon dit sê, maar ek is nie te vinde vir persoonlike aanvalle nie en ek het al honderde mense gesper omdat hulle nie weet hoe om op ‘n beskaafde manier met iemand te redeneer nie. My vriendelys raak aan 5 000, wat dalk besonder hoog klink, maar dan is dit omdat ek voorheen in die openbare oog was en mense dit nog onthou. Ek mis die kollig glad nie en ek probeer so ver moontlik uit die media bly. Nogtans ontmoet ek steeds mense wat onthou wat ek destyds reggekry het. Met WhatsApp is dit natuurlik heelwat minder, omdat ek my vriendelikheid goedkoop en my vriendskap duur hou. Weer eens het ek al mense gesper omdat hulle versoeke gerig het waaraan ek geweier het om te voldoen. Ek kon ook hier groepe stig om met mense wat dieselfde belange as ek het, te kommunieer. Die inperking maak dat mense mekaar nie kan sien nie, en dat normale sosiale interaksie onmoontlik is, maar ten minste is sommige mense net ‘n Facebook- of WhatsApp- teks- of stemboodskap ver.

Natuurlik is daar ook mense wat geestelike verdieping met die inperking ervaar. Ek val nie in daardie kategorie nie, maar as dit nie vir my geloof was nie, het ek nie gelewe om hierdie artikel te skryf nie. Dit is vir my lekker om na eredienste van verskillende predikers, nie net van ons eie gemeente nie, maar ook van naburige gemeentes asook ou vriende wat in die bediening is, te luister. Sommige boodskappe is al Saterdagaande beskikbaar; ek verkies om dan reeds daarna te luister omdat dit die tyd van die week is wat nie gou genoeg verby kan gaan nie omdat daar hoegenaamd niks op televisie is wat die moeite werd is nie en ‘n mens gedwing word om by die huis te bly. Ons luister Sondae na die res van dié boodskappe; dis interessant om elke prediker se aanslag met mekaar te vergelyk en daarby kry ‘n mens ook verskillende perspektiewe. As daar een ding is wat my nog altyd staande gehou het, en my steeds in die staat van inperking staande hou, is dit my geloof.

Nogtans kan ‘n mens nie anders as om neerslagtig te raak omdat jou vryhede beperk word en jy nie toegelaat word om met jou alledaagse lewe voort te gaan nie. Die Amerikaanse rock-groep Green Day het die gevoel van depressie mooi saamgevat in hul trefferliedjie Wake me upo when September ends, wat na aanleiding van ‘n ware lewensgebeurtenis geskryf is. Al wat ek wil sê, is : “Wake me up when lockdown ends.”


MY STORIE maak deel uit van ons gemeente se skryfprojek.  Skuilkrans NG Gemeente glo in die belangrikheid van elkeen se storie.  Dit is ten diepste ‘n getuienis van hoe God in jou lewe werk en dit versterk die liggaam van Christus.  Deel gerus jou storie deur dit te stuur aan Annabelle by kleingroep@skuilkrans.co.za   ‘n Foto of prentjie is ook welkom.

My Storie is ‘n skryfprojek in samewerking met ons Leef Weer Trauma en Beradingsentrum.  Leef Weer Trauma  is n beradingsentrum wat gratis berading gee aan die gemeenskap en aan gemeentelede.  Kontak ons gerus by 063 712 6346 indien jy met iemand wil praat oor enige trauma of krisis

My Storie: GRENDELSKADE

glen-carrie-CFNs8uNwQNM-unsplashNooit in ons wildste drome (so ‘n jaar of wat gelede) sou ons ooit kon dink dat ons argelose en normale daaglikse bestaan skielik in 2020 op ‘n Donderdagaand in Maart tot stilstand geruk sou word op só ‘n drastiese wyse nie.

Dit is soos om ‘n halfgeëete lekkergoed by ‘n kind weg te vat. Die een oomblik is die genot nog daar, en dan skielik word dit weggevat en staan jy stom-verbaas en wonder wat het dan nou eintlik hier gebeur.

Maar hierdie keer was dit nie ‘n lekker wat weggevat is nie, dit was ons vryheid. Daardie vrye kom en gaan soos jy wil, wanneer jy wil, en na wie jy wil. Skielik kom die (gedwonge) bevel om tuis te bly en geen kontak met ander mense te hê nie, nie eers met jou naaste familie en vriende nie.

Die ware impak hiervan het ‘n rukkie geneem om in te sink. Aan die begin was dit iets nuut en vreemd. Vir sommige salig (en selfs avontuurlik) om te kan terugtrek in hul eie beskutte kokonnetjie, opgestock met genoeg toiletpapier en alles wat goed en lekker is.

Die gedagte om niks te MAG doen en nêrens te MAG gaan nie (geen gedwone verpligtinge meer nie) net terug te kan sit en te ontspan, was aanvanklik salig met heerlike rusdae wat voor ons uitgestrek het. ‘n Geforseerde, onverdiende vakansie vir ‘n maand, dis mos iets waaroor almal heimlik droom en nog altyd begeer het.

Planne is beraam hoe om die ledige tydjies om te kry. Stofvergaarde boeke is uitgehaal en vergete stokperdjies weer van êrens opgediep. Daar is egter geen haas nie, dit waarvoor ons nie vandag lus is nie, kan oorstaan tot môre. So rol die dae verby en die boeke bly toe, die stokperdjies bly vergete en skuldig eenkant lê.

Vir sommige, waarvan ek een is, was die ingehoktheid egter noodlottig, want ek kon nie meer, soos die gewoonte was, my liefiekinners(kleinkinders) sien, saam met hulle lag en speel of sing en dans nie. Ek kon nie meer saam met vriendinne gaan koffie drink en ure om gesels nie. Ons (dis nou manlief en ek) kon nie meer by die kinders oor naweke gaan kuier en braai nie. Nie meer die gemeenskap met ons nuwe Christelike familie (wat ons genadiglik gevind het net voor die lockdown) geniet nie. Skielik was ons net op onsself en mekaar aangewese en ons het groot oë vir mekaar gesit en kyk.

As iemand wat lief is vir mense en graag praat en luister, moes en was my mond en ore gewoond daaraan om konstant te werk. Die probleem is egter dat manlief net die teenoorgestelde is, ‘n man van min woorde. Na die eerste paar dae in afsondering, met hom as my enigste geselskap, het hy sy hele kwota woordgebruik opgebruik en stil begin word. Dit was my geleentheid om my onuitputlike bron van woorde (wat teen die tyd al goed opgehoop het) los te laat. Manlief het eers geamuseerd geluister en saamgesels, later net geluister, nog later begin kriewelrig raak en flou verskonings begin maak dat hy iets anders het om te doen en veel later begin soebat dat ek liefs iets anders moet soek om my mond mee besig te hou. Wel, waarmee anders kan mens jou mond besig hou as jy opgesluit is in ‘n eenslaapkamer woonstel saam met iemand wie se ore nie die kapasiteit het om aanhoudend na jou woordevloed te luister nie? As die tong nie kan praat nie, moet die kake maar begin oefening kry.

Aanvanklik het ek gedink dit sal my verlange na my liefiekinners stil as ek so bietjie peusel uit hulle bederfblikkie. Hulle het ‘n spesiale blik in Oumie se kas vol sweeties en koekies en weet daar is altyd ‘n bederfie as hulle vir Ouma en Oupa kom kuier. My verlange na hulle het mettertyd al groter geword en my hand al meer sy pad na die bederfblikkie gevind. Toe ek my oë uitvee was dit dolleeg.

Toe begin ek maar bak, iets wat ek jare laas gedoen het (net om darem my hande ook besig te kan hou). Aan die begin het manlief sy oë gerek en sy ooghare opgetrek in ‘n boog. Sy vraagteken-kyke en onderlangse gemor en brom het gou in ‘n salige glimlag verander toe hy die genot proe van iets vars en smaaklik saam met teetyd.

Om die gewete te sus het ek maar die oorgrote meerderheid van die gebakte versoekings onder woonstelbure begin uitdeel sodat alles nie hulle weg na my heupe en agterstewe vind nie. Maar, wat ek nie besef het nie, is dat die mense hier in ons woonstelkompleks vriendelike, goedhartige, welwillende, vrygewige mense is met outydse waardes en gebruike. Hoe meer versoekings ek uitdeel, hoe meer versoekings kry ek terug, veral in die vorm van sjokolade, sweeties en koekies. Mens gee mos nie ‘n leë kosblik terug nie (so is ons grootgemaak) en mens kyk nie ‘n gegewe perd in die bek nie. Dus mag en kan ek nie sulke welwillendheid van die hand wys nie. Wie kan dan nou “nee” sê vir sulke goedhartigheid? Ek het geen ander keuse gehad as om dit met dank te aanvaar en my kake te laat oefen nie.

Stelselmatig het hierdie oor en weer gedeel van versoekings vir manlief te veel begin word en sy onderlangse gebrom en mor al duideliker en meer sigbaar, totdat hy die gewraakte uitlating maak: “Wanneer laas het jy jouself geweeg?” bedoelende as ‘n duidelike waarskuwing. Eintlik heel onnodig, want ek het reeds self aan my klere begin agterkom hierdie welwillendheid en al die kaakoefening begin nou ernstig aan my lyf vat. Ek het reeds doelbewus die spieël begin vermy en gewyer om my voet op die skaal te sit.

Die skok van om gegrendel te wees, het my een oggend vol in die gesig getref toe ek met die hysbak moes afgaan om ‘n pakkie by die hek te ontvang. Met die instap in die hysbak steek ek tweevoet vas (wie op aarde het dit goedgedink dat daar ‘n mensgrote spieël in ‘n hysbak moet wees?) Die prentjie in die hysbakspieël het my laat omdraai om te kyk of iemand anders nie dalk saam met my ingeklim het nie, maar dit was net “me, myself and I” groot en baie duidelik, tweekeer die wydte as voor lockdown.

Geen wonder my klere sit so styf en ongemaklik en my broeke se nate is op hul limiet gerek nie. Ek het gedink dit is dalk die son se skuld, dat hy ook sy hap wil inkry en lustig aan my klere knibbel op die wasgoedlyn, want na elke was sit dit bietjie stywer.

Om ‘n lang storie kort te maak, nou sit ek met grendelskade en dis het einde niet. Gelukkig is ons darem onlangs afgradeer na Vlak 4 en kon ons weer begin stap of draf. Die gemors is net, my wil is lamgelê en my fut is uit, my vlammetjie brand maar halfmas deesdae en ek sal myself eers weer ordentlik moet herprogrammeer.

©Driekie Grobler


MY STORIE maak deel uit van ons gemeente se skryfprojek.  Skuilkrans NG Gemeente glo in die belangrikheid van elkeen se storie.  Dit is ten diepste ‘n getuienis van hoe God in jou lewe werk en dit versterk die liggaam van Christus.  Deel gerus jou storie deur dit te stuur aan Annabelle by kleingroep@skuilkrans.co.za   ‘n Foto of prentjie is ook welkom.

My Storie is ‘n skryfprojek in samewerking met ons Leef Weer Trauma en Beradingsentrum.  Leef Weer Trauma  is n beradingsentrum wat gratis berading gee aan die gemeenskap en aan gemeentelede.  Kontak ons gerus by 063 712 6346 indien jy met iemand wil praat oor enige trauma of krisis

DIE DONKER DAE VAN INPERKING

national-cancer-institute-L7en7Lb-Ovc-unsplashMy verhaal begin vroeg Januarie 2020 – blakend gesond en vol lewenslus. Een oggend sê vroutjie vir my terwyl ek aantrek: “Wat is daardie ding op jou rug?”. Nou kyk, niemand weet hoe lyk sy rugkant nie, want jy kan nie daar sien nie‚ maar ek weet ek het nie ‘n “ding” op my rug nie. Sy neem toe ‘n foto en een kyk was genoeg om dadelik ‘n afspraak te maak met die dermatoloog.

Nadat ek die weke geduldig afgewag het vir my afspraak in Februarie het die dermatologg ook net een kyk gegee en gesê dat hierdie knewel chirurgies verwyder moet word en dat ‘n plastiese chirurg sal moet help om die wond (“gat” sou ‘n beter beskrywing wees) weer toe te werk. ‘n Paar dae later is die mediese span gereed en in ‘n japtrap is my “ding” nie meer nie. Ek is huis toe om aan te sterk (dws vir eers net ligte tuinwerk) en twee weke te wag voordat die steke verwyder moet word. Intussen word aangekondig dat weens die Covid-19 probleem ons almal ingeperk word.

‘n Paar dae later kry ek ‘n telefoonoproep van die dokter en hy sê: “Jammer om jou die slegte nuus mee te deel maar die patalogiese verslag het teruggekom en dit wat ons uit jou rug uitgesny het, was ‘n aggressiewe melanoom wat in leketaal beteken dat dit ‘n kankergewas is. Jy moet onmiddellik inkom vir opvolgprosedures”.

Dit was nie die soort nuus wat ek verwag het nie en ook nie wil hoor nie. Covid-19 en die mislukte ekonomie was skielik nie meer belangrik nie. Op ouderdom 75 het ek skielik gevoel soos destyds toe ek vir die weermag se oproepinstruksies gewag het. Was hierdie my Skepper se oproepinstruksie? Onmiddellik flits honderde gedagtes deur jou brein en as jy soos ek is wat hou van vorentoe beplan, is die gedagtes nog meer. Dit kan alles is twee woorde op gesom word: wat nou? En skielik skop jou geloof en jou Christenskap in en jy weet dat jy jou nie hoef te bekommer nie. Jou Hemelse Vader sal sy hand van beskrming oor jou hou en as dit lyk asof Hy dit nie doen nie dan is dit omdat Hy ‘n ander plan met jou het. Dalk wil hy vir jou as voorbeeld gebruik. In alle gevalle is jy in Sy hande. En net daar het ‘n groot kalmte oor my neergedaal wat ook na vroutjie deurgespoel het.

Ek het verlede jaar tydens ‘n erediens van Nico Swart ‘n belangrike waarheid gehoor Dit het my so beïndruk dat ek die kerkkantoor gevra het om die preek vir my op papier deur te gee. Ek het die betrokke stukkie uitgesny en in die hoek van ons TV-skerm vasgeplak sodat ek elke dag daaraan herinner kan word. Die stukkie waarheid lees: “Ek is nie wat ek doen nie. Ek is nie wat ek besit nie. Ek is nie wat mense van my sê nie. Ek is God se geliefde kind oor wie Hy jubel en juig van blydskap. Dit is wie ek is”.

Maar terug by my storie. Na my telefoonoproep is ek terug na die plasties chirurg toe. Weens inperking moes hy my ‘n goedkeuringspas gee om hom te kan besoek. Hy het my netjies verduidelik wat volgende gaan gebeur.  Ek moet eerstens kerngeneeskunde besoek. Hulle sal radioaktiewe isotope rondom die bestaande wond inspuit en dan kyk waarheen die isotope versprei. Normaalweg versprei hulle na ‘n spesefieke klier (genoem die “brandwagknoop” – die eerste limfknoop wat dreinering vanaf ‘n tumor ontvang). Hierdie brandwag moet dan verwyder word en ondersoek word vir die verspreiding van kankerselle. ‘n Tweede chirurg gaan ingeroep word om die ekstra snywerk te doen. Daarby gaan die bestaande wond met twee sentimeter in alle rigtings groter gesny word om alle moontlike kankerselle te verwyder.

Pretoria was nou in volle inperking. Hospitale wou nie onnodige pasiëne inneem nie en my mediese span moes motiverings aan die hospitaal voorlê vir toestemming om te opereer. Uiteindelik is my dag en datum bepaal. Weens inperking moes ek myself aanmeld en inboek by die hospitaal. Geen familie-ondersteuning. Vroutjie moes my by die deur aflaai. Die besoek aan kerngeneeskunde en chirurgie het vlot verloop en teen die middag was die oorlog verby. Die oomblik toe ek weer nugter was na die narkose toe sê die hospitaal “trek aan en gaan huis toe”. Hulle wou steeds nie pasiënte in die hospitaal gehad het nie en so bevind ek my weer eens by die hospitaaldeur met my dreinerinspype onder die arm en die drein in my broeksak, en wag vir vroutjie. Ek het soos ‘n “take away” gevoel wat wag om afgehaal te word.

‘n Paar dae later kry ek van die dokter ‘n telefoonoproep met die blye tyding dat die sitologiese verslae vanaf die patoloog toon dat ek heeltemal “skoon” is. Daardie aand het baie aandgebede in baie huishoudings (vriende en familie) verander van “asseblief” tot “dankie”. Weer eens het ek besef dat ons Hemelse Vader ‘n klip in jou pad kan rol net sodat Hy jou kan wys Sy hand van bewaring is altyd oor jou en Hy sal die klip weer wegrol. Jy moet net glo en vertrou en nie beskroomd staan om ernstig en opreg met Hom in gesprek te tree nie. Maar die afgelope twee maande se wedervaringe het mens net weer laat besef hoe verganklik ons lewes is. Die mat kan in ‘n oogwenk onder jou voete uitgeruk word.

Die wond op my rug is (in mm) 98 X 22 X 18 en die een in my regter armholte 22 X 12 X 10. Die laaste steke is nou verwyder en ek is amper al weer my ou self. Ek was al op die dak om ‘n lekplek te soek en het ook die gras gesny. Sal nou maar verder oor die ekonomie bekommer.

Sarel Alberts


MY STORIE maak deel uit van ons gemeente se skryfprojek.  Skuilkrans NG Gemeente glo in die belangrikheid van elkeen se storie.  Dit is ten diepste ‘n getuienis van hoe God in jou lewe werk en dit versterk die liggaam van Christus.  Deel gerus jou storie deur dit te stuur aan Annabelle by kleingroep@skuilkrans.co.za   ‘n Foto of prentjie is ook welkom.

My Storie is ‘n skryfprojek in samewerking met ons Leef Weer Trauma en Beradingsentrum.  Leef Weer Trauma  is n beradingsentrum wat gratis berading gee aan die gemeenskap en aan gemeentelede.  Kontak ons gerus by 063 712 6346 indien jy met iemand wil praat oor enige trauma of krisis

My Storie: WAT AS . . .

zac-durant-_6HzPU9Hyfg-unsplash

Deur: ©Driekie Grobler

Wat as dinge nooit weer sal wees soos dit voorheen was nie?

As ek so na die TV kyk en sien hoe mense grappies maak en hulself op allerhande maniere kreatief besig hou, wonder ek of ons mensdom werklik die erns besef van wat besig is om te gebeur. Dit is duidelik dat sommige die hele ding beskou as ‘n salige, heerlike, onbeplande vakansie.

Wat as dinge nooit weer sal terugkeer na ‘normaal’ nie?

Wat as ons nooit weer vryelik buite sal kan gaan rondloop soos en wanneer ons wil nie?

Wat as die besighede, wat gedwone moes toemaak, nie weer die nodige kapitaal gaan hê om weer oop te maak nie?

Wat as mense nie meer werk het om na terug te gaan nie?

Wat as geld en kosvoorrade opdroog en die winkelrakke leeg bly?

Wat as ons nooit weer ons geliefdes sal kan aanraak, vashou of sien nie?

Wat as die internet af gaan en selfone nie meer seine het nie?

Daar is so baie “wat as’s” wat deur my kop gaan.

As ‘n positiewe mens wat altyd poog om positief te bly en ander aan te spoor om ook eerder uit ‘n positiewe oogpunt na dinge te kyk, besef ek ook dat mens die waarheid in die oë sal moet kyk. Dit help nie om soos ‘n donkie met oogklappe aan te wees nie.

As ons vooraf geweet het hierdie ding gaan gebeur, sou ons dalk dinge anders gedoen het?

Dalk beter voorsorg getref het.

Seker gemaak het ons spandeer meer genoegsame kwaliteittyd saam met geliefdes?

Meer ywer aan die dag gelê het om ons take af te handel.

Daardie dinge wat ons nog graag wou doen, gedoen het.

Meer tyd buite en in die natuur deurgebring het.

Meer gereeld kerk toe gegaan het.

As ons maar net die tyd kon terugdraai . . .

Maar, ons kan nie. Skielik het alles waaraan ons gewoond was tot ‘n halt gekom en al gebeur dit dalk (ons glo en hoop so met alles in ons) dat dinge weer sal normaliseer, wonder ek of dinge ooit weer presies dieselfde soos voorheen sal wees.

As Kind van God glo ek dat hierdie ‘n ingryping van Bo is. Die wêreld het op ‘n ramp afgestuur met misdaad en sonde wat hoogty vier. Mense het nie meer gesag of eerbied vir God en sy Gebod nie.

Dalk is hierdie God se manier om ons weer op ons knieë te kry, ons ons sondes te laat bely. Alles weer in orde te kry.

Ek dink aan die storie van die 7 maagde wat hul gereed moes maak vir die bruilof, slegs die wat erns gemaak het met die opdrag, en gesorg het dat hul lampe vol olie was, is toegelaat om in te gaan en die bruilof by te woon.

Is hierdie dalk die begin van die einde?

Ek weet nie en ek hoop nie so nie, want my kleinkinders is nog so bitter klein en hul lewe begin nou eers.

Al wat ons kan doen is om te bid en God te smeek om genade. Om self seker te maak dat, sou dit wel die begin van die einde wees, ons en ons geliefdes gereed sal wees om die Bruidegom te ontmoet.


Covid-19 (16 March 2020)

When the silence of the night
turns into the silence of the day
And outside living
becomes in-house stay

When social gatherings
and freedom of walk
Becomes necessary distance
and covering talk

When hugs and kisses
becomes dangerous practice
And cough and sneezes
life-threatening actions

When the price of petrol drops
but you have nowhere to go
And freedom of shopping
turns into an endless row

When businesses shut down
and people are forced to stay at home by their boss
Panic arises
for their income has been lost

When people get ill
and know there’s no cure yet
They start to speculate
for new ways to be set

But only God has the power
to shut down the whole world
Maybe it’s His way to say
“Stop the violence and betray.”

“It is time to repent and turn back to Me.
So, shut out all the world’s noise
so that you once again
can hear My voice.”

©Driekie Grobler
(1/4/2020)


MY STORIE maak deel uit van ons gemeente se skryfprojek.  Skuilkrans NG Gemeente glo in die belangrikheid van elkeen se storie.  Dit is ten diepste ‘n getuienis van hoe God in jou lewe werk en dit versterk die liggaam van Christus.  Deel gerus jou storie deur dit te stuur aan Annabelle by kleingroep@skuilkrans.co.za   ‘n Foto of prentjie is ook welkom.

My Storie is ‘n skryfprojek in samewerking met ons Leef Weer Trauma en Beradingsentrum.  Leef Weer Trauma  is n beradingsentrum wat gratis berading gee aan die gemeenskap en aan gemeentelede.  Kontak ons gerus by 063 712 6346 indien jy met iemand wil praat oor enige trauma of krisis.

Topwenke van ‘n professionele huismuis

venster

Deur Annabelle Lombard

Dag 12 van Corona Selfisolasie

Ek lees die blogwenke van professionele tuisblyers: huisvroue, vryskut skrywers, ‘n non en selfs ‘n ruimtevaarder. Met baie meer vryheid, was ek ook die laaste 13 jaar ‘n huismuis en voel ek ook genope om my klein bydrae te maak, vir wie dit ook al iets mag beteken.

Ek vermoed almal is in skok en bang na gisteraand se aankondiging dat Suid Afrika tot hulle huise beperk word. Dis vir niemand lekker om te sien hoe jou land se weermag ontplooi word om seker te maak jy sit nie jou voet in die straat nie.  As jy hierdie lees is jy reeds tuis, of besig om voor te berei vir ‘n nuwe lewe binne die veilige poorte van jou Corona adres.  Indien jy nog pendel tussen huis en werk, is jy waarskynlik ‘n essensiële diensverskaffer, wat beteken jy is een van ons nuwe nasionale super helde: die skoonmakers, mediese engele, nooddienswerkers, kassiere en almal wat die voedselketting, ekonomie, maatskaplike en munisipale dienste aan die gang hou. As dit die geval is, bid ek Sy genade oor jou en hope ekstra krag en gesondheid.

Selfs ons helde gaan aansienlik meer tyd tuis moet deurbring. Sodra jy jou tuiskantoor ingerig het en klaar geskarrel het om die huis teen oorlog te verskans, gaan jy ‘n paar kerwe op Maslow se behoefte-hiërargie kan klim (die eerste is blykbaar nou toiletpapier en hospitaalgehalte ontsmettingsmiddels, dan wifi, kos, kerse en imuunversterkers). Ek is nou al by die deel van die piramide waar ek tuisonderrig vir selfontwikkeling en selfaktualisering, vermaak en sosialisering begin bedink.  Bitter min in my daaglikse bestaan het eintlik verander, maar vir die meeste mense gaan dit ‘n enorme skok en aanpassing wees.  Ek hoor reeds dat Sielkundiges wêreldwyd oorval is deur gesonde mense wat nie die isolasie kan hanteer nie en iewers op die skaal tussen depressie en volle waansin beweeg.  So hier is my top wenke om jou varkies bymekaar te hou:

 

  1. Neem afskeid van jou ou lewe. Dis verby.  Selfs al kom jy heel anderkant uit sal die wêreld nooit weer dieselfde wees nie.  Jou nuwe lewensdoel is om jouself en jou naastes deur hierdie jaar te kry.  Een dag op ‘n slag. Hoe gouer jy met die ontsaglike gedagte kan vrede maak, hoe gouer kan jy die oorlog aanpak.
  2. Rou ‘n rukkie – gee jou en jou naastes tyd om oor die verlies te kom van alles “daarbuite”. Wees sag met mekaar, want aanpassing is moeilik en die frustrasie en selfs woede is normaal en kom in golwe. Beskerm jou hart as jy ‘n kleintjie het, teen al die duisende verhale van verlies en wanhoop. Moenie meegesleur word in die maalkolk van tragedie nie. Jou immuniteit hang letterlik daarvan af. Tel jouself elke dag aan die kraag op en kies lewe en hoop. Lees selektief en stomp jouself ‘n klein bietjie af teen negatiwiteit en onnodige inligting. Begrawe ou koeie, vergewe mekaar, kies liefde, respek en teerheid.
  3. Raak lief vir jou huis. Maak jou Corona hibernasie-nes ‘n gerieflike en gemaklike ruimte. Die klem is nou nie meer op estetika en modes nie, maar op die inwoners se gewoontes en behoeftes. Vertroetel jouself en jou huismense.  Doen steeds moeite met jouself en jou voorkoms, maar geniet die vryheid van pantoffels en die luuksheid van tyd. Jy hoef nou niemand te beïndruk of met iemand mee te ding nie, die druk is op oorlewing. As jy alleen is of ‘n enkelouer is, gaan jy ekstra moeite met doen.  Wees kreatief, neem ‘n troeteldier aan, koop ‘n plant, waak teen uitputting en vier steeds die lewe se klein vreugdes.
  4. As jy nog altyd op ‘n huishulp gesteun het en nou sonder iemand moet klaarkom gaan veral die ma’s baie swaarkry. Verdeel en delegeer take, kom in ‘n weeklikse skoonmaak roetine en moenie alleen die las dra nie.  Daar is iets ongelooflik terapeuties aan fisieke sleurtake en terwyl ‘n mens se hande besig is, kan jy jou kop om alles probeer kry wat met ons gebeur. Skep nuwe familie rituele rondom skottelgoedwastyd, kyk iets op jou skootrekenaar terwyl jy stryk, facetime iemand terwyl afstof ens. Moenie dat werk ophoop en die huis deurmekaar raak nie, dan voel jy binne ‘n paar dae depressief, oorweldig en buite beheer.
  5. Maak nuwe huisreëls vir jou gesin om mekaar ekstra te ondersteun en dinge vlot te laat loop. Kom so gou moontlik in ‘n nuwe week en naweek roetine. Dit laat kinders veilig voel en help jou om jou werk, huiswerk, dalk later tuisonderrig en ontspanning te balanseer.  Skep aparte tye en areas vir werk en ontspan.
  6. Pas mekaar op. Praat gereeld met mekaar en hoor wat is almal se frustrasies, vrese en behoeftes. Laat mense toe om dit op hulle eie manier te beleef. Verwag dat almal af en toe gaan uithaak. Dis normaal, maar hou dit kort en sê Leef vrygewig en handel verantwoordelik teenoor mense wat van jou afhanklik is. Erken as jy te kort skiet en hulp nodig het. Wees tegelyk broos en dapper. Wees eerlik, maar wys in die afweeg van jou woorde wat jy spreek en tik. Leef in totale afhanklikheid van God.

 

  1. Maak tyd vir speel, ontspan en geestelike toewyding. Skep nuwe spirituele gewoontes. Daar is ‘n magdom gratis hulpbronne, idees, e-konserte, e-eredienste op sosiale media platvorms. Ontwikkel jou talente en span jou gawes in om ander in hierdie tyd te seën.  Probeer elke dag iets moois te skep om die lewe bietjie draagliker te maak vir mense om jou.  Gebruik jou verbeelding en kreatiwiteit en probeer iets nuuts.
  2. Doen iets groens en gesonds. Begin ‘n groentetuin – al is dit ‘n leë houer met een tamatiepit in jou vensterbank. Herwin, “upcycle” en deel jou idees met ander. Bly fiks en soepel.
  3. Hou kontak met mekaar, bemoedig, vertroos, inspireer en bid vir mekaar. Doen moeite met gesinstyd. Dit is ‘n eenmaal-in-leeftyd-kans om STADIG te lewe.  Dink aan goed wat julle rustig saam kan doen, slow-food, slow dance, slow living. Wees in die oomblik. Sê vir mense hoeveel jy vir hulle omgee asof dit die laaste kans is. Sien reikhalsend uit na volgende jaar wanneer ons almal die lewe sal waardeer soos oorlewendes uit die kake van die dood.
  4. Hou dagboek. Dit is terapeuties en iets om vir die nageslag te bewaar oor ‘n ongelooflike tyd in die geskiedenis. Ons gesin het begin met ‘n dagboek waarin ons elkeen soggens 4 goed neerskryf: Waarvoor is ons dankbaar, 2. Wat gaan ons doen om iemand vandag te help?, 3. Wat gaan ons skep wat kreatief is en skoonheid toevoeg? 4. Vir watter persoon gaan ons vandag spesiaal bid?

 

Daar is iets ongelooflik vertroostend aan die gerusstellende, konstante teenwoordigheid van wasgoed – selfs in die middel van ‘n wêreldpandemie!  Kinders raak steeds klokslag elke twee ure honger en blare wil steeds gehark word soos wat die herfs nader kruip. Daar is iets ongelooflik doodgewoon en alledaags in elke dag te midde van al die onsekerheid en vrees.  Daar is steeds baie snaakse en mooi goed as jy weet waar om te soek. Kies om daarop te fokus en los die groot paniek vir die professionele krisishanteerders. Hou vas aan Jesus soos ‘n drenkeling in die oop see, maar woon en werk rustig voort in die wete dat Hy steeds in beheer is. O en laastens – bly weg van positiewe mense af – net sover dit Covid 19-status behels.  Hou die mense met jou tipe humorsin op speed-dial.  Humor en al die goedvoel endorfiene is wat jou hierdeur gaan staande hou.

Sterkte en liefde!

Lees gerus meer van my blogs hier


MY STORIE maak deel uit van ons gemeente se skryfprojek.  Skuilkrans NG Gemeente glo in die belangrikheid van elkeen se storie.  Dit is ten diepste ‘n getuienis van hoe God in jou lewe werk en dit versterk die liggaam van Christus.  Deel gerus jou storie deur dit te stuur aan Annabelle by kleingroep@skuilkrans.co.za   ‘n Foto of prentjie is ook welkom.

My Storie is ‘n skryfprojek in samewerking met ons Leef Weer Trauma en Beradingsentrum.  Leef Weer Trauma  is n beradingsentrum wat gratis berading gee aan die gemeenskap en aan gemeentelede.  Kontak ons gerus by 063 712 6346 indien jy met iemand wil praat oor enige trauma of krisis.

My Storie: Die lewe in isolasie

raphael-schaller-Cz_Xbm3Jyyw-unsplashDeur Daantjie Badenhorst

In 1980 het Joan Armatrading ‘n treffer met “Me myself “I gehad.

Die boodskap van hierdie liedjie was dat sy alleen in die lewe kon regkom en nie interaksie met mense nodig gehad het nie. Die corona-virus het my egter laat wonder of dit hoegenaamd moontlik is om afgesonderd te lewe.

Ek is ‘n ambivert; ‘n kruising tussen ‘n introvert en ‘n ekstrovert. Ek hou niks van groot groepe mense nie en ek wil soms my eie ding doen, maar tussen die regte mense kan ek lekker kuier. Ek sal van my kop af raak as ek heeltemal afgesonderd moet wees.

Ek is dankbaar dat die corona-virus nie twintig jaar gelede, toe sosiale media nog nie bestaan het nie, uitgebreek het nie. In hierdie tyd, in die jaar 2000, was ek nog heeltemal enkellopend en ek het nog alleen gewoon. Hoewel ek by ‘n jeugaksie van die plaaslike gemeente betrokke was, sou ‘n virus soos hierdie een gemaak het dat ek hoegenaamd geen kontak met my vriende, of met die buitewêreld sou hê nie, en daar was ook niemand wat my in daardie tyd sou kon ondersteun nie. Gelukkig het die wêreld intussen drasties verander. Danksy Facebook, WhatsApp en ander sosiale media het ek ‘n spul mense landwyd, en in ander dele van die wêreld, ontmoet. Ek weet ek sal sommige van hulle nie sommer van aangesig tot aangesig sien nie, want ek kry selde die geleentheid om te reis. Jy kan nie vir ‘n selfoon of ‘n rekenaar ‘n drukkie gee, of saam met een koffie of ‘n bier gaan drink nie, en terwyl die isolasietydperk van krag is, maak dit nie saak nie. Ek dink egter dat interaksie met mense, veral van aangesig tot aangesig, belangrik is.

So, hoe oorleef ‘n mens die volgende drie weke? As jy Wi Fi het, is dit maklik, want jy kan deur sosiale media kommunikeer en as jy gelukkig is om te kan voortgaan met jou werk deur met jou werkgewer deur middel van e-pos te kommunikeer, is dit seker nie so ‘n groot probleem nie. Jy kan ten minste nog op hierdie manier interaksie met die buitewêreld hê, maar ook dit is nie altyd die antwoord nie, want ‘n mens raak moeg daarvoor. Ongelukkig is daar geen regstreekse sport nie en die sportkanale bly net voortbestaan deur herhalings te wys van sportgebeurtenisse wat almal al tot vervelens toe gesien het.  Daar is darem ook nog rolprente waarna ‘n mens aanlyn kan kyk, maar weereens is daar baie wat die meeste mense al gesien het. Die programskedule van een of twee kanale verander binnekort en daar is nuwe programme waarna ‘n mens kan uitsien. Nie almal is egter televisiekykers nie, en daar is ook diegene wat net op een of twee kanale aangewese is.

Die vraag is, wat doen ‘n mens nou? Sommige mense het groot CD- of DVD-versamelings, maar weer eens is dit nie vir almal die antwoord nie, want ‘n mens raak dalk verveeld as jy vir die honderdste keer na dieselfde DVD gekyk of na dieselfde CD geluister het. Daar is sekere DVD’s waarna ek kan kyk en wat ek elke keer sal geniet, maar ek weet nie of ek noodwendig na dit alles wil kyk nie. Die vraag is ook of ‘n mens altyd vermaak wil, of behoort te word. Daar is ‘n grap in omloop waarvolgens ‘n getroude man kastig die dinge sal kan doen waarvoor hy nog nooit regtig tyd gehad het nie. Dis dalk nie ‘n slegte idee om ‘n projek waaraan jy so lank al werk en waarvoor jy nooit tyd kry nie, te voltooi nie. Nie almal is handvaardig nie, maar as jy wel is, kan jy dalk herstelwerk in en om die huis oorweeg. Vir diegene met skoolgaande kinders is dit moeilik, want hoe hou jy hulle die heeltyd besig? Miskien kan daar saam speletjies gespeel of kos gemaak word, of anders kan kinders help om huistake te verrig. Dit sal nie net verveling teenwerk nie, maar hulle ook verantwoordelikhede leer.

Die ander moontlikheid is om tyd saam met God deur te bring. Daar is baie dinge waarna mense gryp in hierdie soort tye; ek het besluit om my nie hieraan skuldig te maak nie. Miskien moet ons weer tyd maak om God se Woord te bestudeer en met Hom te praat. Een goeie gevolg van die virus is dat verskillende gemeentes hul eredienste op You Tube plaas. Natuurlik moet ons gemeente voorkeur geniet, maar ons kan ook moeite doen om na ander boodskappe te luister. Dit sal goed vir ons as kinders van die Here wees om verskillende perspektiewe te kry.  Hopelik sal die gemeentes wat hul boodskappe aanlyn beskikbaar stel, voortgaan om dit te doen wanneer alles weer normaal is. Hoewel dit roekeloos is om die virus summier as “God se straf” te beskou, is dit dalk nou die tyd vir introspeksie, en die kans om jou saak met God reg te maak.

Die moeilikste drie weke wat sommige mense in hul leeftyd ervaar het, lê voor ons, maar soos Paulus in Filippense 4 vers 13 (Die Boodskap) sê: “Vir die goeie en die slegte sien ek kans, omdat Christus my bron van krag is.”


MY STORIE maak deel uit van ons gemeente se skryfprojek.  Skuilkrans NG Gemeente glo in die belangrikheid van elkeen se storie.  Dit is ten diepste ‘n getuienis van hoe God in jou lewe werk en dit versterk die liggaam van Christus.  Deel gerus jou storie deur dit te stuur aan Annabelle by kleingroep@skuilkrans.co.za   ‘n Foto of prentjie is ook welkom.

My Storie is ‘n skryfprojek in samewerking met ons Leef Weer Trauma en Beradingsentrum.  Leef Weer Trauma  is n beradingsentrum wat gratis berading gee aan die gemeenskap en aan gemeentelede.  Kontak ons gerus by 063 712 6346 indien jy met iemand wil praat oor enige trauma of krisis.

My Storie: Skrikkeldag – Terugblik 35 jaar later

evie-s-_IpKsTK9gcE-unsplash

Deur Elsa van Zyl Smit

Pretoria

29 Februarie 2020

Liewe Annemarie,

Vandag was jou twaalfde regte-egte verjaarsdag, maar eintlik sou jy 48 jaar oud gewees het. Skrikkelkind, jy kies toe sowaar die aand van 29 Februarie om by ons gesin te kom aansluit. Ons het toé (gelukkig) nie geweet dat jou verblyf kortstondig sou wees nie. As ek daardie dag ’n keuse sou gehad het, sou ek jou verblyf (en dit daarmee gepaard) nooit wou misloop nie.

Die afgelope 35 jaar het daar nie een dag verbygegaan waartydens jou leë plek nie deel van my wese was nie. Op heuglike dae moes jy hier gewees het om in die vreugde te kon deel. Op dae van hartseer en terleurstelling wou ek uitroep: “Kom troos my teen die pyn!”

In die vyf-en-dertig jaar wat verbygevlieg het, het dinge verander. Broer en jou maats is middeljarig en elkeen het ’n eie koers ingeslaan. Die lewe het vir sommige ’n goeie hand gedeel, ander moes maar die pak slae vat wat na hulle kant toe gekom het. Van hulle woon vandag regoor die wêreld, want die Suid-Afrika wat jy 1985 agtergelaat het, het ’n onherkenbare plek geword

Taalaktiviste het ten bloede toe teen die prikkels geskop, maar ons land het verengels – Finish en klaar! Afrikaanse byvoeglike naamwoorde is verskraal tot “awesome en amazing”. Die amptelike taal is nou se dae “Swak Engels”.

Daarmee saam het ’n klomp nuwe begrippe posgevat waarvan jy g’n idee sou hê nie. Wat sal jy nou verstaan van Google, GPS, internet, kunsmatige intelligensie, aardverwarming of selfone? Nou praat ons nie eers van staatskaping, kaderontplooiing of regstellende aksie nie. Wat wed ek jou jy sou g’n idee gehad het van wat vir ’n ding ’n Gupta is nie …

Jaarliks, rondom jou verjaarsdag, is daar  maats, familie en kennisse – wat net kontak om te sê: “Ons het Annemarie nie vergeet nie”.

Soos Nat King Cole sing: “Unforgetable, that is what you are …”

Jou geite, hebbelikhede en streke is lankal vergewe en vergeet. Jy was ’n vrot verloorder en gevolglik ’n kroek met bord- en kaartspeletjies. Omdat jy slim en bekkig was, behoort die trofeehouer as back chatter nog steeds aan jou. Broer moes ook maar sy storie ken om die mas teen jou op te kom.

Maar wat ons koester en mis, is jou lag, jou humor en die vreugde wat jy gebring het. Skoolmaats vertel steeds dat daar baklei is oor wie langs jou mag sit, want “die een wat langs Annemarie sit, gaan heeljaar lag”.

Ek en Pappa het dikwels opgemerk: “Hierdie kind is in die Moedersbond omgeruil. Sy het meer grysstof as ons twee tesame …”

In die 35 jaar van jou afwesigheid het die lewe voortgesnel.

Pappa is nog steeds lief en verstrooid (dalk meer as toe jy nog hier was). En jou ma is (volgens die twee mansmense in die huis) nog steeds kwaai – glo meer as tevore … Ons het verhuis, gereis en selfs ernstige gesondheidskrisisse beleef. Mense wat jy geken en lief gehad het is begrawe, maar in hulle plek is nuwes   gebore wat jy nié geken het nie. In die familie het sukses en terleurstellings, prestasies en skandes mekaar afgewissel. Daar was goeie en nie-so-goeie gebeurtenisse. Egskeiding en gesinsverbrokkeling het ongevraagd ons gemaksone binnegedring. Daar was die selfdood van ’n bloedjong familielid, maar toe was jy nie meer deel van ons beleweniswêreld nie.

Ons woon deesdae in die aftreeoord – Ek mis dit dat jy nooit deel van hierdie tuiste was nie. Flitse aan jou is verbind aan ander plekke. Jou blondekop en maroen skoolrok assosieer ek onlosmaaklik met ons ou huis. Jy is verweef in   anekdotes van die twee jaar wat ons in die buiteland gewoon het. Jy is ingemessel in die onthoue rondom die vakansiehuis op Scottburgh. Die dag toe elkeen van dié eiendomme uitgefaseer is, is nog ’n voetspoor van jou doodgevee.

Ons beleef die genade van ouer word, meegesleur op die vervoerband na uiterlike verwering, mankolieke liggame en kognitiewe uitrafeling, – die onontwykbare realiteit.

Die enigste voordeel (?) van jou as vroeggestorwene, is dat herinneringe aan jou altyd dié van ’n veertienjarige, skerpsinnige en aantreklike jong dogter sal wees.  Niemand gaan jou onthou as ’n verrimpelde, inkontenente, half-kop ouvrou met spatare en hang-tieties nie. Soos ydele jongmense graag kwytraak: “Die young and have a beautiful body …”

Annemarie, in die leë dae probeer ek my verlange stil deur jou latere lewe te idealiseer. Ek visualiseer jou lewe sou deurspek wees van goedheid en guns:  Liefde, sukses en prestasie sou jou toebedeel wees. Deure sou voor jou besondere persoonlikheid en talente oopspring. Pyn, eie aan die lewe, sou jou gespaar gewees het.

Jou man sou prima genetiese materiaal wees: Aansienlik, karaktervol en intelligent – g’n tabakasem, geweldadige vuiste, voorliefde vir ’n dop of ’n dwalende oog vir hom nie. (Om alles te kroon sou hy sy skoonma op die hande dra).

Jou kinders sou voorbeeldig, talentvol, goedgemanierd, en gestroop van tienertwak wees. Geeneen van hulle sou ongeneeslike siektes opdoen en jonk sterf nie. (En hulle sou dink hulle ouma is cooler as cool).

Bowenal weet ek jy en jou huis sou die Here dien.

Annemarie, ek sal nooit regtig vrede hê oor hoekom jy so vroegtydig moes weggaan nie – om die waarheid te sê, ek is kwaad omdat jy nooit gegun is om jou potensiaal te bereik nie. Jy het die pret van die lewe misgeloop.

Op die donkerste van donker dae kry ek myself jammer en voel dit die lewe het my ’n vuil steep getrek. Ek raak sommer ongedurig omdat jy my gedrop het.  Het jy nie geweet jy was veronderstel om mý te begrawe en nie andersom nie?  Jy moes mý oë toegdruk het en ek nie joune nie.

Na jou weggaan is ek toegegooi met goedbedoelde rommel-teologie:

“Die Here pluk altyd die mooiste blommetjies vir sy tuin …

Jy is uitgekies omdat Hy weet jy is sterk genoeg om dit te kan dra …

Alles gebeur altyd ten geode …

Eendag gaan jy alles verstaan …”

Ek kon my troos vind in Stephan Joubert se woorde: “God se grootste antwoord is Hy self. In Hom vind sy kinders rus. By Hom is daar vrede”.

Hierdie vrede het ek en jy in jou laaste dae saam beleef. Die skaduwee van die dood het vir twee jaar oor ons gesin gehang, maar genade en liefde het ons elke dag gedra. Die finale oomblik wat ek só gevrees het, was toe waardig en goed.  Die oggend van jou vertrek kon ek jou sê: “Sussie, jy gaan nie gesond word nie. Dit raak nou te moeilik vir jou. Ek gaan jou mis en sal jou nagedagtenis tot my laaste dag koester, maar jy is vry om na Jesus te gaan,

Die aand het jy in ’n koma versink waaruit jy saggies die grens oorgesteek het.

Ek glo dat, die dag as ek mý gees aan God sal teruggee, sal jý daar wees om my te verwelkom. Jy moet groot asseblief my hand styf vashou as ook ek die Groot Onbekende betree. (Soos ek aan jou voet gevat en stories vertel het teen die engtevrees in die Magnetiese Resonansie skanderingstonnel).

Ek aanvaar ons gaan verheerlikte liggame hê, anders sou jy sekerlik sê: “Jig Ma, jy het darem oud en lelik geword sedert 1985!”

Liefde

Ma- Elsa


MY STORIE maak deel uit van ons gemeente se skryfprojek.  Skuilkrans NG Gemeente glo in die belangrikheid van elkeen se storie.  Dit is ten diepste ‘n getuienis van hoe God in jou lewe werk en dit versterk die liggaam van Christus.  Deel gerus jou storie deur dit te stuur aan Annabelle by kleingroep@skuilkrans.co.za   ‘n Foto of prentjie is ook welkom.

My Storie is ‘n skryfprojek in samewerking met ons Leef Weer Trauma en Beradingsentrum.  Leef Weer Trauma  is n beradingsentrum wat gratis berading gee aan die gemeenskap en aan gemeentelede.  Kontak ons gerus by 063 712 6346 indien jy met iemand wil praat oor enige trauma of krisis.

My Storie: LYDENSTYD vs KRISISTYD

eberhard-grossgasteiger-CytHrRFp2wU-unsplash

©Driekie Grobler

Was dit so bestem of is dit maar net toeval dat die grootste krisis/rampspoed wêreldwyd (ekonomiesgewys) juis nóu, gedurende die herdenking van Jesus se lydenstyd, duisende jare gelede, moet plaasvind?

Mens kan nie anders as om te wonder of dit nie God se manier is om die mensdom tot stilstand te dwing nie.

Ons menswees is nie in staat om soveel pyn/lyding te kan hanteer nie, want in onsself is ons te swak en broos. Maar deur ‘n Krag (groter as ons) wat beskik oor die mag om pyn en lyding te oorkom, word ons in staat gestel om siekte en dood te oorwin.

Te midde van al die skommelinge en gedwonge afsondering a.g.v. “’n onsigbare virus” wat dodelik gevaarlik is, het dit ook dringend tyd geword vir die mens om weer sy fokus in te stel op die EEN wat juis lewe vir ons moontlik maak. Die EEN wat deur hel moes gaan sodat ons van die vernietiging en besmetting van sonde vrygeskeld kon word. Ontsmettingsmiddels vlieg van die rakke af en mense betaal ten duurste daarvoor om die liggaam te beskerm, terwyl lydenstyd ons daaraan herinnering dat daar ‘n groter gevaar (lankal) dreig waarvoor Jesus se bloed gratis beskikbaar is, deur geloof.

Watter beter tyd vir introspeksie en selfondersoek tot waardepaling is daar nie nou op ons “afgedwing” nie. ‘n Tyd van wakkerskrik. Ons word gedwing om stil te word, onsself af te sonder, sodat ons nie net vry kan kom van ‘n virus wat die liggaam besmet nie, maar ook weer deeglik kan besin en tot die besef kan kom oor die bose vernieting en besmetting van sonde. Sonde is ‘n baie groter besmetting as die virus, want sonde veroorsaak ‘n ewige dood.

Dit is juis in hierdie tyd waar ons weer deeglik bewus moet word oor die PRYS wat JESUS vir ons sonde-besmetting moes betaal.

HY het sy kosbare bloed (deur bitter lyding) laat vloei om ons van daardie besmetting te reinig, te ontsmet. Sy BLOED is ons enigste redding en vryelik beskikbaar vir elkeen wat in HOM glo.

Jesus was ook geïsoleer in sy worstelstryd. Selfs die dissipels wat saam met Hom moes waak en bid het Hom in die steek gelaat. Hy moes deur bitter lyding gaan om homself te bewys as waardige Verlosser vir die mensdom. Hy het homself geen rus gegun nie. Geen groter bewys van LIEFDE was daar nog ooit weer nie.

Met dieselfde passie en deursettingsvermoë moet ons ook nou (gedurende hierdie afsonderingstyd) by God pleit vir verlossing, om vergifnis en vir lewe vir ons en ons kinders/nageslag. Dat daar weer ‘n geslag na vore sal kom wat Hom dien in Gees en Waarheid en leef volgens God se Wil en Sy opdragte en Woord eerbieding en gehoorsaam.

Kom ons reinig weer opnuut onsself deur ons sonde en afvalligheid te bely, sodat daar geestelike reiniging en ontsmetting kan plaasvind wat deurvloei na ons nageslag en land.

God sê in sy Woord: Mat. 10:28 “Moenie bang wees vir dié wat die liggaam doodmaak, maar die siel nie kan doodmaak nie. Nee, vrees Hom eerder wat sowel die liggaam as die siel in die hel kan laat vergaan.”

Ons inspirasie moenie van mense afhang nie, maar van Hom wat ons opdrag gee.

Hy is en bly in beheer!

Spreuke 1:33 “maar wie na My luister, sal veilig wees en hoef geen ramp te vrees nie.”

Kom ons stel weer Bybelse waardes in, dit is ons enigste redding.


MY STORIE maak deel uit van ons gemeente se skryfprojek.  Skuilkrans NG Gemeente glo in die belangrikheid van elkeen se storie.  Dit is ten diepste ‘n getuienis van hoe God in jou lewe werk en dit versterk die liggaam van Christus.  Deel gerus jou storie deur dit te stuur aan Annabelle by kleingroep@skuilkrans.co.za   ‘n Foto of prentjie is ook welkom.

My Storie is ‘n skryfprojek in samewerking met ons Leef Weer Trauma en Beradingsentrum.  Leef Weer Trauma  is n beradingsentrum wat gratis berading gee aan die gemeenskap en aan gemeentelede.  Kontak ons gerus by 063 712 6346 indien jy met iemand wil praat oor enige trauma of krisis.

Lydenstyd te midde van die Corona-virus

aaron-burden-b9drVB7xIOI-unsplash

Deur Daantjie Badenhorst

Baie mense glo dat ‘n mens opofferings moet maak in die tydperk van sewe weke tussen Aswoensdag en Paasfees om met Jesus se lyding en kruisiging te identifiseer.

Ek moet eerlik wees; ek het nog nooit werklik daaraan geglo nie. Ek het nog altyd voortgegaan met my normale lewe; nie omdat ek my nie daarmee vereenselwig nie, maar omdat sulke “rituele” nie vir my belangrik is nie. Vanjaar het die Corona-virus die hele wêreld egter tot stilstand geruk, en ons word gedwing om, tydelik of permanent, van sekere dinge afstand te doen, of ons wil of nie.

Die belangrikste hiervan, glo ek, is die gemeenskap van die gelowiges. Vroeër jare was jy elke Sondag in die kerk; daar is nie daaroor gepraat of geredeneer nie. Soms verhinder omstandighede my om eredienste by te woon, maar dit is die uitsondering eerder as die reël. Wanneer dit egter vir my moontlik is, woon ek twee eredienste op ‘n Sondag by; veral omdat die oggend- en aanddienste radikaal van mekaar verskil en ek glo dat daar plek vir klassieke- en kontemporêre musiek in die kerk is, en behoort te wees. Ek dink in elk geval dit is uiters belangrik om eredienste by te woon, nie om gesien te word nie en nie omdat dit “die regte ding is om te doen” nie. Nee, ons moet gaan om die Here te loof en te aanbid en om na sy Woord te luister. Ons moet ook dit wat ons gehoor het, elke dag in ons lewens toepas. Ek kyk nie na uitsendings van eredienste op televisie nie, omdat ek glo dat gelowiges eerder bymekaar moet kom.

Die hartseer gevolg van die Corona-virus is egter dat sekere byeenkomste wat beplan is, gekanselleer is; sommige daarvan was jaarlikse instellings en baie mense het daarna uitgesien. Só was daar duisende jongmense wat Voortrekkerkampe sou bywoon, maar dit nie meer kan doen nie. Die ergste van alles is dat sommige mense afhanklik is van byeenkomste van ‘n honderd mense of meer om ‘n inkomste te verdien. Die feit dat soveel konserte gekanselleer is, beteken dat kunstenaars nie die inkomste sal kan verdien waarop hulle staatgemaak het nie, en dat musiekliefhebbers langer sal moet wag om hulle te sien optree. Daarby kan sportbyeenkomste  voortgaan nie; alle rugby en krieket is gestaak en nugter weet of, en indien wel wanneer, vanjaar se Formule 1-seisoen gaan begin. Dis maklik om dit alles te “vergeestelik”; baie mense sê dat dit God se manier is om te sê dat mense van hul “afgode” moet afstand doen en hulle moet verootmoedig. Dis snert. Die mens is nie gemaak om net ‘n geestelike wese te wees nie en buitendien het ons lank al weg van die Calvinistiese oortuigings van vroeër jare beweeg.

Die gevolg is nou dat mense al hoe meer in “selfisolasie” verkeer; hulle maak met niemand kontak nie omdat hulle bang is dat hulle besmet sal word. Soos die Noord-Sotho-spreekwoord lui: “motho ke motho ka batho.” (‘n Mens is ‘n mens deur ander mense), en daarom is dit nie goed om alleen te wees nie. Daar is soms tye wanneer dit nodig is om jouself met jou eie dinge besig te hou, maar soms wil ‘n mens interaksie met ander mense hê. Ek is ‘n fisiese kontak-mens; ek groet my mansvriende, familie en ander mense wat ek goed ken, met die hand en ek gee vir my vriendinne drukkies. Dit is ironies omdat ek vroeër jare daarvan weggeskram het. Daarby is daar ouers wat voltyds werk en nie weet wat met hul kinders te doen nie, as gevolg van onsimpatieke werkgewers wat hulle dwing om op kantoor te wees.

Op ‘n manier het die Corona-virus gemaak dat die hele wêreld ‘n vorm van lydenstyd beleef. Dit het ons ook geleer dat ons niks as vanselfsprekend moet aanvaar nie: soos John Lennon gesê het: “Life is what happens when we’re making other plans.” Ek glo egter dat God in beheer is, en hoewel ‘n mens steeds verantwoordelik moet optree en alles moontlik moet doen om te keer dat die virus versprei, sal Hy alles ten goede laat meewerk.


MY STORIE maak deel uit van ons gemeente se skryfprojek.  Skuilkrans NG Gemeente glo in die belangrikheid van elkeen se storie.  Dit is ten diepste ‘n getuienis van hoe God in jou lewe werk en dit versterk die liggaam van Christus.  Deel gerus jou storie deur dit te stuur aan Annabelle by kleingroep@skuilkrans.co.za   ‘n Foto of prentjie is ook welkom.

My Storie is ‘n skryfprojek in samewerking met ons Leef Weer Trauma en Beradingsentrum.  Leef Weer Trauma  is n beradingsentrum wat gratis berading gee aan die gemeenskap en aan gemeentelede.  Kontak ons gerus by 063 712 6346 indien jy met iemand wil praat oor enige trauma of krisis.

Die laaste liefdesmaal

jametlene-reskp-21xmyDjZPck-unsplash

Deur Driekie Grobler

Sonder vooroordeel
sien Hy sy dissipels om die tafel raak.

Sonder oordeel
hoor Hy die fluister van sy verraaier se wraak.

Sonder verwyt
proe Hy aan ‘n laaste stukkie gedoopte brood.

Sonder spyt
voel Hy die hand van naderende sondedood.

Sonder haat
praat Hy vir oulaas oor vergifnis en sielerus.

Sonder hoogmoed was Hy voete voor sy weglei-Judaskus.

Sonder berou
was Hy as mens tevrede met so min.

As liefdevolle Koning
veel meer as waaroor ons ooit sal kan besin,

 

Uit Hartsnare
Digbundel en Hartsbegeertes


MY STORIE maak deel uit van ons gemeente se skryfprojek.  Skuilkrans NG Gemeente glo in die belangrikheid van elkeen se storie.  Dit is ten diepste ‘n getuienis van hoe God in jou lewe werk en dit versterk die liggaam van Christus.  Deel gerus jou storie deur dit te stuur aan Annabelle by kleingroep@skuilkrans.co.za   ‘n Foto of prentjie is ook welkom.

My Storie is ‘n skryfprojek in samewerking met ons Leef Weer Trauma en Beradingsentrum.  Leef Weer Trauma  is n beradingsentrum wat gratis berading gee aan die gemeenskap en aan gemeentelede.  Kontak ons gerus by 063 712 6346 indien jy met iemand wil praat oor enige trauma of krisis.