Twintig jaar van Vrouedagvieringe

68806163_10216672980871746_4377920955779907584_nGeskryf deur Isabel Ballot
Fotos: Annabelle Lombard

“ ’n Vrou is soos ’n teesakkie. ‘n  Teesakkie weet nooit hoe sterk sy is voordat sy in warm water beland nie.”

Judy Van Rooyen wat die verwelkomings by die Vrouedag geleentheid doen, haal  Eleanor Rooseveldt onder groot gelag aan. Vrouedag word jaarliks deur Skuilkrans Gemeente  en Dameskring VisiePlus aangebied. Vanjaar op 17 Augustus 2019 is dit die 20 ste bestaansjaar van hierdie geleentheid waar ongeveer 160 vroue uit Skuilkrans, Mamelodi en Eersterus, asook gaste uit ander gebiede, mekaar ontmoet.

Elmien Botha se tong-in-die-kies tema HOOP is nie ‘n HOOP Tupperware deksels nie, spreek  egter ‘n ernstige onderwerp aan.  “ Ons samelewing het ongeduldig met stadige mense geword.” sê Elmien.  “Daar is min gevoel vir depressielyers, bejaardes en bedelaars.  Die tegnologiese rewolusie het kinders se veerkragtigheid weggeneem. Televisie en die selfoon het oppassers geword terwyl ma kosmaak na werk.” Elmien vra of ons nie eerder na werk met ons kinders in die tuin behoort te speel en brood en kaas vir aandete behoort te eet nie?

“ Ons ontneem ons kinders van hoop.” sê sy.  “Dit doen ons met ons negatiewe praatjies rondom die braaivleisvure. Ons moedig ons kinders aan om elders werk te gaan soek omdat daar nie ‘n toekoms in hierdie land is nie. “

Hoe moet ons dan optree?  “Ons moet vir ons kinders hoop gee deur ons

Christenskap uit te leef.  Ons moet vir hulle die hoop van Romeine 5:3 gee,” sê  Elmien. “…swaarkry kweek volharding, en volharding kweek egtheid van geloof, en  egtheid van geloof kweek hoop; en dié hoop beskaam nie….”

‘n Middag vol verrassing  word afgesluit met ‘n puik vertoning deur die Eersterus-Baldansgeselskap opgevolg deur tee en verversings.

Nuwe vriendskapsbande is gesmee en ou bande hernu.