Oases in die Woestyn

Skuilkrans NG Gemeente se Leef Weer sentrum nooi almal hartlik uit na ‘n gemeentebyeenkoms Dinsdagaand, 18 Oktober om 18:00, in die kerksaal. Ons gaan heerlik om tafels gesels en luister na ‘n spreker se persoonlike getuienis. Die geleentheid is gratis en daar is verversings. Laat weet asb. die kerkkantoor teen Maandag 17 Oktober of jy kan kom – t.w.v. die spyseniering. Caro 012 804 7787 of by Irma Reyneke van die Leef Weer sentrum 083 625 6777

Die praatjie sal ook op die gemeente se Youtube kanaal beskikbaar gemaak word.

Meer oor die gasspreker:

Erika Raubenheimer is ‘n ervare Maatskaplike werkster met ervaring in trauma- gesins- en huweliksterapie. Erika is tans in ‘n privaat praktyk, maar het ook al ‘n draai gemaak in onderwys en opleiding en was in maatskaplike dienste by o.a. die CMR en SANDF.

Erika skyf:

Ons het soms ervarings waar dit vir ons voel dit is die einde van ons wêreld. Tye wanneer ons moeg, moedeloos en verlate voel. Ons beleef soos die Israeliete in die woestyn, dat die Here ons verlaat het en ons in ‘n situasie vasgevang is, waar ons nie weet hoe om uit te kom nie, waar dit vir ons lyk daar gaan nooit ‘n einde wees nie, waar dit vir ons voel ons kwyn en waar ons dikwels murmureer soos die Israeliete in die woestyn. Ons gaan kyk hoe die Here vir die Israeliete sorg in die woestyn – ek noem dit oases wat Hy vir hul kom gee. Ek gaan met jul deel van my woestyn en die oases wat die Here vir my kom gee het. Ons gaan geleentheid gee dat die Here jou attent maak van oases wanneer jy dalk voel jy’s in ‘n woestyn. Ons gaan praat oor hoe die Here ons help om deur die woestyn te kom.

Leef Weer Trauma- en Beradingsentrum is ‘n bediening van ons gemeente se Onderlinge SorgBediening en word bestuur deur Irma Reyneke. Die sentrum bied werkswinkels, praatjies en opleiding aan en het ‘n span vrywilligers wat opgelei is in narratiewe terapie. Die sentrum lewer ‘n gratis diens aan enigiemand binne en buite die gemeente wat behoefte het om met iemand te praat. Die beraders is ook opgelei om traumaontlonting te doen aan mense wat deur ‘n rooftog, ongeluk of enige lewensbedreigde situasie was. Die beraders is ook bereid om volwassenes en kinders te verwys na verdere professionele hulp indien daar bv. geestestoestande of verslawings teenwoordig is, of as mediasie, regshulp, pastorale hulp of spesialis terapie vereis word. Indien jy behoefte het om met iemand te praat oor jouself, jou verhoudings of enige goed wat jou kwel of gespanne maak, is jy welkom om hulle te kontak by 063 712 6346 / 0836256777