Die Kleingroep Genadepelgrims

Deur Quintin Du Plooy

Dit gaan goed met die Genadepelgrims, nieteenstaande die inperking, en ons hou steeds by die doelwitte van (om Hom) te eer, te beredeneer en te leer.

Oor die afgelope jare, sedert die ontstaan van die kleingroep, het daar ‘n hegtheid tussen ons ontwikkel wat heelwat familietrekke inhou. Ons het voortdurende kontak per Whatsapp, ons weet hoe dit met mekaar gaan en ons bemoedig mekaar. Ons bid vir mekaar, vir vriende en familie, nie net oor krisisse wat ervaar word nie, maar ook oor die vreugdes wat ons beleef.

 Alhoewel ons nie so tegnologies vaardig is as wat ons graag sou wou wees nie, het ons nou ook gereelde Zoom-gesprekke, waartydens ons ons beredenerings voortsit, byna asof ons bymekaar is. Dit is werklik ‘n vreugde om weer die gesigte te sien en om saam te kan gesels.

Die gesprekke tot dusver gaan hoofsaaklik oor die wese en werking van die Heilige Gees, hoofsaaklik na aanleiding van die Pinksterdienste, en ‘n mens kan met oortuiging sê dat ons, wat die Heiligheid van huis uit ken, diep onder die indruk is van die Grootsheid en die ontsaglike diepte van Sy handelinge. By elke bespreking kom ons toenemend onder die indruk daarvan dat daar nog so baie te leer is en dat die Gees ons geleidelik tot beter begrip lei.

Daarvoor dank ons die Here. 

My Storie: God is daar

37518_144548015558722_5724334_n

 

Deur Carine Von Backstrom

Ek wil graag my storie van die afgelope drie jaar met julle deel. Bakkies, my man, sterf op 3 Maart 2017. Twee maande daarna kry ek ‘n onverwagse 3 kroonslagaar hartomleiding. Ek gaan bly by my dogter na die operasie. Ek kry infeksie en gaan weer vir rukkie terug hospitaal toe. Daardie Julie sterf my jongste broer aan kolonkanker. Ek kan nie afskeid gaan neem nie.  In Augustus sterf my oudste broer ook aan diabetes. Weer kan ek nie afskeid gaan neem nie. In Oktobermaand word die tone aan my linker-voet geamputeer.

Dit ontaard in 2de amputasie van die been onder die knie. Ek lê in ICU en weet niks van daardie amputasie nie. Dan volg die 3de amputasie net bokant die knie. Ek word onder sterk verdowing gehou. Ek raak gou beter en gaan na ‘n stepdown. Daar gaan ek in ‘n koma en word weer in ICU opgeneem. My niere gee in en ek kry dialise. My liggaam gaan in septiese skok. Ek was die hele tyd in koma of geïnduseerde koma.

Die dokter beveel die kinders aan om masjiene af te skakel. Dit was ‘n ongelooflike besluit vir hulle om te neem. Gelukkig het hulle geweet ek sou nie so aan die lewe gehou wou word nie. Die masjiene word afgeskakel en God neem oor. Ek moet net sê: op daardie stadium het ek in dieselfde bed gelê waarin Bakkies oorlede is. Ek kom by en leef.

Daar was so baie mense wat vir my gebid het. Intussen verloor ek my werk,  ek moet my huis verkoop en die kinders en vriendinne trek my goed. Ek lê weer in stepdown en kry 2 ligte beroerteaanvalle. Van daar is ek gesond genoeg om op my eie te bly. Ek gaan huur ‘n huisie in Brummeria Renaissance. Dit was die gelukkigste tydjie na al my ontberinge. Ek bly alleen en koop vir my ‘n scooter en ry oral rond.

Dan sterf my sus in George. Gelukkig kan ek afskeid gaan neem van haar. My regterbeen gee ook in en word ook geamputeer. Weer moet ek totsiens sê en trek. Nou bly ek in Silversig aftreehuis in my eie kamertjie. My huis is nou ‘n kamertjie. Dit is nie sleg nie.

Na alles wat met my gebeur het wil ek graag getuig van Jesus se teenwoordigheid. Die hele tyd was ek bewus van Hom. Ek weet vandag dat lewe en dood slegs in God se hande lê. Ek dank my Vader dat hy die hele tyd by my was en ek nooit alleen gevoel het nie. Ek is dankbaar vir elke gebed wat vir my opgegaan het. Ek is dankbaar vir die goedheid van vriende wat  my en my kinders deur alles bygestaan het. Weet asb. en glo vas dat ons ‘n groot God het wat jou nooit alleen laat nie.

ONTHOU GOD IS ALTYD DAAR.


MY STORIE maak deel uit van ons gemeente se skryfprojek.  Skuilkrans NG Gemeente glo in die belangrikheid van elkeen se storie.  Dit is ten diepste ‘n getuienis van hoe God in jou lewe werk en dit versterk die liggaam van Christus.  Deel gerus jou storie deur dit te stuur aan Annabelle by kleingroep@skuilkrans.co.za   ‘n Foto of prentjie is ook welkom.

My Storie is ‘n skryfprojek in samewerking met ons Leef Weer Trauma en Beradingsentrum.  Leef Weer Trauma  is n beradingsentrum wat gratis berading gee aan die gemeenskap en aan gemeentelede.  Kontak ons gerus by 063 712 6346indien jy met iemand wil praat oor enige trauma of krisis

 

Skuilkrans Gebedsgroep

melissa-askew-8n00CqwnqO8-unsplash

Deur Driekie Grobler

Jakobus 5:16 “Die gebed van ‘n gelowige het ‘n kragtige uitwerking.”

Gebed is die fondament van ‘n Christelike lewe waarsonder ons nie kan funksioneer nie. Dit skep gerusstelling wanneer jy weet iemand tree vir jou in by die Vader.

Daar word gereeld gebedsversoeke op die groep geplaas en ons is dankbaar vir almal wat geroepe voel om saam te bid vir elke versoek wat geplaas word.

Dit is ook belangrik om gereeld terugvoer te ontvang, en ons kan getuig van gebede wat verhoor is en gee aan die Skepper en Geneesheer, Jesus Christus, alle lof en eer daarvoor.

Dringende gebedsversoeke tans is vir gemeentelede wat in die hospitaal is of gebuk gaan onder siekte en trauma beleef.

Ons bid ook tans vir ons predikante wat onder hierdie moeilike omstandighede steeds die leisels stewig moet vashou vir insig en wysheid.

Dan bid ons ook ernstig vir die bejaardes in ouetehuise, vir beskerming teen die virus en vir geestelike, sowel as emosionele versterking.

Kom sluit gerus aan by ons gebedsgroep, die nr. is 0832843899.

Daar is krag in gebed en ons almal het dit daagliks nodig.

 

 

PRAATPAPIER 17 Junie 2020

Genesis 18:1-15 Abraham ontvang drie besoekers
(Preek beskikbaar op http://www.skuilkrans.co.za)

Tema: Wie weet waar die Here aan jou verskyn?
Ons lees die verhale oor Abraham se lewe in Genesis 12 tot 25. In die verhale is daar uiteenlopende denkbeelde oor God ingeweef en daar is verskillende sub-verhale wat ook vertel word (soos die slaaf wat ‘n vrou vir Isak in Haran moes gaan haal in Genesis 24).
In die hele Ou Testament is dit belangrik om in gedagte te hou dat dit gaan oor God se betrokkenheid by sy mense. Dit gaan veral oor die Here, die God van Israel en nooit primêr oor die mense nie. Die verhale, geskiedenisse, wysheid, gedigte en profetiese boodskappe gaan oor God.

In Genesis se verhale hoor ons ten minste twee ‘stemme` wat die verhale vertel. Hier in Genesis 18 is die ‘Jahwis’ aan die word. Die kenmerke van sy manier van vertel is dat hy van God as Jahwe praat (vertaal as “die Here”) en dat die Here deel is van die vertelling, dikwels as een van die akteurs, soos hier in Genesis 18. Die ander verteller noem ons die ‘Priester’. Vir hom is God verhewe en buite die alledaagse. Hy noem God Elohim (vertaal as “God”). Twee goeie voorbeelde van hoe hulle vertelstyle verskil, is Genesis 1:1-2:4a (Priester: die skeppingsgedig) en Genesis 2:4b-3:24 (Jahwis: die tuinverhaal), of ook in die aankondiging van Isak se geboorte (Priester: Genesis 17:15-22; Jahwis: Genesis 18:1-15).
`n Mens kan jou die prentjie voorstel wat in Genesis 18 vertel word (en dit is ook die verteller se bedoeling): op die hitte van die middag in die halfwoestyn naby Hebron (Mamre), sit Abraham wanneer daar drie reisigers verbykom. Alles in hom wat beskaafd en oordentlik is, kom in werking: hy draf na hulle toe en nooi hulle in, hy bied water en `n ete aan en laat dit vinnig voorberei – maar die hele tyd het hy geen idee wie die gaste is nie. Hy betoon bloot die gasvryheid wat hy aan alle mense verskuldig is, omdat dit is wat `n mense behoort te doen.

Wanneer die gesprek begin, blyk dit dat dit nie maar bloot reisigers was nie, maar die Here en twee engele. Dit is `n goddelike besoek, met ingrypende gevolge. Ou Abraham en sy ou vrou, Sara, gaan ‘n baba kry en dit sal gou gebeur. Vir Sara, wat alles vanuit die tent aanhoor, klink dit soos ‘n verspotte grap: Hoe kan sy in haar ouderdom nog ‘n kind verwag? Sy lag dit af, maar die Here weet dit en vra: Waarom lag Sara? Sy ontken dit verleë, maar Hy verseker hulle: Volgende jaar hierdie tyd sal Sara ‘n seun hê.
Sonder om dit te besef het Abraham die Here ontvang en onthaal en dit is wat soms met ons ook kan gebeur. Die Here klop op die mees onverwagse maniere aan ons deur en ons gedrag behoort só te wees dat dit geen verskil maak dat dit Hy is nie.

Vrae vir nadenke of bespreking:
1. Waar kan ons verwag om in hierdie Corona-tyd en in die grendelstaat die Here te ontmoet?
2. Het dit al gebeur dat jy iets beleef het waar jy later besef het dat dit ‘n manier is waarop die Here jou besoek het.
3. Die Here se besoek aan Abraham was sonder tekens of groot natuurverskynsels. Dit was in die alledaagse. Verwag jy om die Here in die alledaagse te ontmoet? Dalk selfs in ander mense?
4. Jesus neem later hierdie gedagte op wanneer Hy sy volgelinge leer dat hulle sorg aan die minstes in die samelewing die maniere was waarop hulle Hóm gedien het.

almanakhoof Kleingroepe

My Storie: Só hanteer ek die inperking

maxim-zhgulev-5tmItJfHkIc-unsplash

Deur: Daantjie Badenhorst

Dit is nou al omtrent ses weke sedert die staat van inperking weens die Corona-virus aangekondig is, en dit lyk asof dit nog baie lank gaan duur voordat dit in sy geheel opgehef gaan word.

Die vraag is nou net: hoe verwerk ‘n mens dit, en wat kan jy doen om nie heeltemal van jou kop af te  raak nie? Die verbod op die verkoop van sigarette en drank raak my hoegenaamd nie; ek beskou rook as ‘n skending van die tempel van die Heilige Gees en ek drink net matig. Ek het wel voorraad opgebou van my gunsteling alkoholiese drankie maar ek sal net nou en dan een daarvan drink en ek gryp beslis nie daarna as ek sleg voel nie.

As die inperking twintig jaar gelede plaasgevind het, weet ek sowaar nie hoe ek dit sou hanteer nie. Hoewel ek soms alleen is en verkies om met my eie dinge besig te wees, kan ek dit nie die heeltyd doen nie. Ek het interaksie met mense nodig, en ek is by die punt verby wat ek my gevoelens opkrop. Daarom is sosiale media vir my uiters belangrik. Ek is net op sekere platforms aktief; ek is op Facebook en WhatsApp en hoewel ek ‘n Instagram-profiel het, volg ek ander mense eerder as om self plasings te maak. Daarby kan ‘n mens nie tot dieselfde mate een tot een met iemand op Instagram as op Facebook gesels nie. Ek het my Twitter-profiel ‘n paar jaar gelede gesluit omdat ek almal wat my gevolg het, my plasings sou kon sien en ek niemand daarvan kon uitsluit nie.

Facebook en WhatsApp is ‘n ander saak. Ek het baie goed bevriend geraak met mense landwyd wat ek deur Facebook leer ken het; ek behoort aan ‘n paar geselsgroepe en ‘n paar groeplede het kort voor die inperking bymekaar gekom en baie lekker gekuier; asof ons mekaar jare lank al ken. Ek het self ook ‘n paar groepe gestig wat verband hou met my belangstellings en voorliefdes en ek gesels met ander mense wat in hierdie dinge belangstel. Ek glo aan gesonde debatvoering; as iemand se standpunt van myne verskil, kan daardie persoon dit sê, maar ek is nie te vinde vir persoonlike aanvalle nie en ek het al honderde mense gesper omdat hulle nie weet hoe om op ‘n beskaafde manier met iemand te redeneer nie. My vriendelys raak aan 5 000, wat dalk besonder hoog klink, maar dan is dit omdat ek voorheen in die openbare oog was en mense dit nog onthou. Ek mis die kollig glad nie en ek probeer so ver moontlik uit die media bly. Nogtans ontmoet ek steeds mense wat onthou wat ek destyds reggekry het. Met WhatsApp is dit natuurlik heelwat minder, omdat ek my vriendelikheid goedkoop en my vriendskap duur hou. Weer eens het ek al mense gesper omdat hulle versoeke gerig het waaraan ek geweier het om te voldoen. Ek kon ook hier groepe stig om met mense wat dieselfde belange as ek het, te kommunieer. Die inperking maak dat mense mekaar nie kan sien nie, en dat normale sosiale interaksie onmoontlik is, maar ten minste is sommige mense net ‘n Facebook- of WhatsApp- teks- of stemboodskap ver.

Natuurlik is daar ook mense wat geestelike verdieping met die inperking ervaar. Ek val nie in daardie kategorie nie, maar as dit nie vir my geloof was nie, het ek nie gelewe om hierdie artikel te skryf nie. Dit is vir my lekker om na eredienste van verskillende predikers, nie net van ons eie gemeente nie, maar ook van naburige gemeentes asook ou vriende wat in die bediening is, te luister. Sommige boodskappe is al Saterdagaande beskikbaar; ek verkies om dan reeds daarna te luister omdat dit die tyd van die week is wat nie gou genoeg verby kan gaan nie omdat daar hoegenaamd niks op televisie is wat die moeite werd is nie en ‘n mens gedwing word om by die huis te bly. Ons luister Sondae na die res van dié boodskappe; dis interessant om elke prediker se aanslag met mekaar te vergelyk en daarby kry ‘n mens ook verskillende perspektiewe. As daar een ding is wat my nog altyd staande gehou het, en my steeds in die staat van inperking staande hou, is dit my geloof.

Nogtans kan ‘n mens nie anders as om neerslagtig te raak omdat jou vryhede beperk word en jy nie toegelaat word om met jou alledaagse lewe voort te gaan nie. Die Amerikaanse rock-groep Green Day het die gevoel van depressie mooi saamgevat in hul trefferliedjie Wake me upo when September ends, wat na aanleiding van ‘n ware lewensgebeurtenis geskryf is. Al wat ek wil sê, is : “Wake me up when lockdown ends.”


MY STORIE maak deel uit van ons gemeente se skryfprojek.  Skuilkrans NG Gemeente glo in die belangrikheid van elkeen se storie.  Dit is ten diepste ‘n getuienis van hoe God in jou lewe werk en dit versterk die liggaam van Christus.  Deel gerus jou storie deur dit te stuur aan Annabelle by kleingroep@skuilkrans.co.za   ‘n Foto of prentjie is ook welkom.

My Storie is ‘n skryfprojek in samewerking met ons Leef Weer Trauma en Beradingsentrum.  Leef Weer Trauma  is n beradingsentrum wat gratis berading gee aan die gemeenskap en aan gemeentelede.  Kontak ons gerus by 063 712 6346 indien jy met iemand wil praat oor enige trauma of krisis

My Storie: GRENDELSKADE

glen-carrie-CFNs8uNwQNM-unsplashNooit in ons wildste drome (so ‘n jaar of wat gelede) sou ons ooit kon dink dat ons argelose en normale daaglikse bestaan skielik in 2020 op ‘n Donderdagaand in Maart tot stilstand geruk sou word op só ‘n drastiese wyse nie.

Dit is soos om ‘n halfgeëete lekkergoed by ‘n kind weg te vat. Die een oomblik is die genot nog daar, en dan skielik word dit weggevat en staan jy stom-verbaas en wonder wat het dan nou eintlik hier gebeur.

Maar hierdie keer was dit nie ‘n lekker wat weggevat is nie, dit was ons vryheid. Daardie vrye kom en gaan soos jy wil, wanneer jy wil, en na wie jy wil. Skielik kom die (gedwonge) bevel om tuis te bly en geen kontak met ander mense te hê nie, nie eers met jou naaste familie en vriende nie.

Die ware impak hiervan het ‘n rukkie geneem om in te sink. Aan die begin was dit iets nuut en vreemd. Vir sommige salig (en selfs avontuurlik) om te kan terugtrek in hul eie beskutte kokonnetjie, opgestock met genoeg toiletpapier en alles wat goed en lekker is.

Die gedagte om niks te MAG doen en nêrens te MAG gaan nie (geen gedwone verpligtinge meer nie) net terug te kan sit en te ontspan, was aanvanklik salig met heerlike rusdae wat voor ons uitgestrek het. ‘n Geforseerde, onverdiende vakansie vir ‘n maand, dis mos iets waaroor almal heimlik droom en nog altyd begeer het.

Planne is beraam hoe om die ledige tydjies om te kry. Stofvergaarde boeke is uitgehaal en vergete stokperdjies weer van êrens opgediep. Daar is egter geen haas nie, dit waarvoor ons nie vandag lus is nie, kan oorstaan tot môre. So rol die dae verby en die boeke bly toe, die stokperdjies bly vergete en skuldig eenkant lê.

Vir sommige, waarvan ek een is, was die ingehoktheid egter noodlottig, want ek kon nie meer, soos die gewoonte was, my liefiekinners(kleinkinders) sien, saam met hulle lag en speel of sing en dans nie. Ek kon nie meer saam met vriendinne gaan koffie drink en ure om gesels nie. Ons (dis nou manlief en ek) kon nie meer by die kinders oor naweke gaan kuier en braai nie. Nie meer die gemeenskap met ons nuwe Christelike familie (wat ons genadiglik gevind het net voor die lockdown) geniet nie. Skielik was ons net op onsself en mekaar aangewese en ons het groot oë vir mekaar gesit en kyk.

As iemand wat lief is vir mense en graag praat en luister, moes en was my mond en ore gewoond daaraan om konstant te werk. Die probleem is egter dat manlief net die teenoorgestelde is, ‘n man van min woorde. Na die eerste paar dae in afsondering, met hom as my enigste geselskap, het hy sy hele kwota woordgebruik opgebruik en stil begin word. Dit was my geleentheid om my onuitputlike bron van woorde (wat teen die tyd al goed opgehoop het) los te laat. Manlief het eers geamuseerd geluister en saamgesels, later net geluister, nog later begin kriewelrig raak en flou verskonings begin maak dat hy iets anders het om te doen en veel later begin soebat dat ek liefs iets anders moet soek om my mond mee besig te hou. Wel, waarmee anders kan mens jou mond besig hou as jy opgesluit is in ‘n eenslaapkamer woonstel saam met iemand wie se ore nie die kapasiteit het om aanhoudend na jou woordevloed te luister nie? As die tong nie kan praat nie, moet die kake maar begin oefening kry.

Aanvanklik het ek gedink dit sal my verlange na my liefiekinners stil as ek so bietjie peusel uit hulle bederfblikkie. Hulle het ‘n spesiale blik in Oumie se kas vol sweeties en koekies en weet daar is altyd ‘n bederfie as hulle vir Ouma en Oupa kom kuier. My verlange na hulle het mettertyd al groter geword en my hand al meer sy pad na die bederfblikkie gevind. Toe ek my oë uitvee was dit dolleeg.

Toe begin ek maar bak, iets wat ek jare laas gedoen het (net om darem my hande ook besig te kan hou). Aan die begin het manlief sy oë gerek en sy ooghare opgetrek in ‘n boog. Sy vraagteken-kyke en onderlangse gemor en brom het gou in ‘n salige glimlag verander toe hy die genot proe van iets vars en smaaklik saam met teetyd.

Om die gewete te sus het ek maar die oorgrote meerderheid van die gebakte versoekings onder woonstelbure begin uitdeel sodat alles nie hulle weg na my heupe en agterstewe vind nie. Maar, wat ek nie besef het nie, is dat die mense hier in ons woonstelkompleks vriendelike, goedhartige, welwillende, vrygewige mense is met outydse waardes en gebruike. Hoe meer versoekings ek uitdeel, hoe meer versoekings kry ek terug, veral in die vorm van sjokolade, sweeties en koekies. Mens gee mos nie ‘n leë kosblik terug nie (so is ons grootgemaak) en mens kyk nie ‘n gegewe perd in die bek nie. Dus mag en kan ek nie sulke welwillendheid van die hand wys nie. Wie kan dan nou “nee” sê vir sulke goedhartigheid? Ek het geen ander keuse gehad as om dit met dank te aanvaar en my kake te laat oefen nie.

Stelselmatig het hierdie oor en weer gedeel van versoekings vir manlief te veel begin word en sy onderlangse gebrom en mor al duideliker en meer sigbaar, totdat hy die gewraakte uitlating maak: “Wanneer laas het jy jouself geweeg?” bedoelende as ‘n duidelike waarskuwing. Eintlik heel onnodig, want ek het reeds self aan my klere begin agterkom hierdie welwillendheid en al die kaakoefening begin nou ernstig aan my lyf vat. Ek het reeds doelbewus die spieël begin vermy en gewyer om my voet op die skaal te sit.

Die skok van om gegrendel te wees, het my een oggend vol in die gesig getref toe ek met die hysbak moes afgaan om ‘n pakkie by die hek te ontvang. Met die instap in die hysbak steek ek tweevoet vas (wie op aarde het dit goedgedink dat daar ‘n mensgrote spieël in ‘n hysbak moet wees?) Die prentjie in die hysbakspieël het my laat omdraai om te kyk of iemand anders nie dalk saam met my ingeklim het nie, maar dit was net “me, myself and I” groot en baie duidelik, tweekeer die wydte as voor lockdown.

Geen wonder my klere sit so styf en ongemaklik en my broeke se nate is op hul limiet gerek nie. Ek het gedink dit is dalk die son se skuld, dat hy ook sy hap wil inkry en lustig aan my klere knibbel op die wasgoedlyn, want na elke was sit dit bietjie stywer.

Om ‘n lang storie kort te maak, nou sit ek met grendelskade en dis het einde niet. Gelukkig is ons darem onlangs afgradeer na Vlak 4 en kon ons weer begin stap of draf. Die gemors is net, my wil is lamgelê en my fut is uit, my vlammetjie brand maar halfmas deesdae en ek sal myself eers weer ordentlik moet herprogrammeer.

©Driekie Grobler


MY STORIE maak deel uit van ons gemeente se skryfprojek.  Skuilkrans NG Gemeente glo in die belangrikheid van elkeen se storie.  Dit is ten diepste ‘n getuienis van hoe God in jou lewe werk en dit versterk die liggaam van Christus.  Deel gerus jou storie deur dit te stuur aan Annabelle by kleingroep@skuilkrans.co.za   ‘n Foto of prentjie is ook welkom.

My Storie is ‘n skryfprojek in samewerking met ons Leef Weer Trauma en Beradingsentrum.  Leef Weer Trauma  is n beradingsentrum wat gratis berading gee aan die gemeenskap en aan gemeentelede.  Kontak ons gerus by 063 712 6346 indien jy met iemand wil praat oor enige trauma of krisis

Corona Gesigmaskers

Die Tabita naaldwerkklas is druk besig om maskers te maak. Daar is maskers vir elke geleentheid, ouderdom en smaak! Dis ook ‘n heerlike geskenk om vir iemand te gee. Die projek is in die eerste plek ‘n werkskeppingsprojek en ‘n fondsinsamelings geleentheid. Die vroue word betaal vir hulle werk en die wins gaan terug na die kerk. Dit is egter ook ‘n uitreikprojek en jou aankopie kan weer minder bevoorregte kinders help: Vir elke masker wat ons verkoop, gaan ons 2 gratis maskers aan kinders skenk. Ons gee ook gratis maskers vir die CMR wat dit versprei saam met die kospakkies.

Een van ons ondersteuners skryf die volgende:

Dit is nou regtig waarde vir geld julle. Ek het lanklaas stikwerk gesien wat so ordentlik gedoen is. Die maskers is baie mooi en sterk gemaak en jy kan binnekant buitentoe ook dra om by jou klere/kleure te pas.

798b40be-6696-4a9f-bd4d-fd8c655f1a40

Die maskers word gemaak van 100% katoen of poliëster-katoen met ‘n dubbele binnelaag van “spun bond” (dieselfde as wat in kommersiële maskers gebruik word) en is ten volle wasbaar.

Maskers word met rekke wat rondom kop gaan gemaak en is verkrygbaar in 4 groottes nl x-tra klein, klein, medium en groot. Die medium grootte maskers is geskik vir meeste volwasse dames en groot vir mans. Groottes word bepaal deur die mate vanaf die neusbrug tot voor oor te neem. Ons kan ook maskers vir kinders maak. Pryse wissel tussen R35 en R50 per masker.

Kontak Irma by 082 824 6235

Hoop

jeremy-thomas-rMmibFe4czY-unsplashWanneer die nag meedoënloos-

die dag in gewaande oorwinning

finaal opklad

en wolke die sterre verdring

die sig wegkwyn

tot niks in die sfere verdwyn

en die aarde sy kop gedwee hang

 

soek hoop met ‘n inneroog

en ‘n oer-oue wete

wat diep in die wese ontkiem

na die eerste haarkrake

van ‘n blinknuwe dag

uit die skoot van die donker gebore

wat onkeerbaar wring

oor die Oosterkim

en groei

en bloei

in prismakleure

tot die lig elke newel verdring

en ‘n kraakvars begin

met verblindende glans

oor ‘n wêreld van vreugde

laat dans.

 

©         Quintin du Plooy

April 2020

Gesigmaskers

95431696_3101602679879005_6486847883499798528_nDie Tabitha naaldwerkklas gaan maskers maak. Maskers word gemaak van 100% katoen of poliëster-katoen met ‘n dubbele binnelaag van “spun bond” ( dieselfde as wat in kommersiële maskers gebruik word) en is ten volle wasbaar. Maskers word met rekke wat rondom kop gaan gemaak en is verkrygbaar in 4 groottes nl x-tra klein, klein, medium en groot. Die medium grootte maskers is geskik vir meeste volwasse dames en groot vir mans. Groottes word bepaal deur die mate vanaf die neusbrug tot voor oor te neem. Ons kan ook maskers vir kinders maak. Pryse wissel tussen R35 en R50 per masker. Kontak Irma by 082 824 6235

Reading for children

IMG_4115

Please join Skuilkrans Dutch Reformed Church in our effort to spread stories to children via Whatsapp voice notes.  We wil spread it to the local schools in our community.

Guidelines for readers:

  • Mention/ acknowledge the name of the story and the writer/author right at the beginning
  • Mention an age group (not compulsory) and send it in a separate message with your story.
  • Read with love and enjoyment— it will come through in your voice
  • Ideally the recorded stories must be about 4-5 minutes long. Maybe 9 minutes
  • If you are making a video recording and include pictures you have to ensure that the story is not upside down. Keep the story very short because of the data on the recipients’ side.
  • Some readers read a book chapter by chapter. Start each recording and state clearly Charlie and the Chocolate factory by Roald Dahl , Chapter 2
  • Take a break between recordings. You may not realize it but your voice dips when you get tired and it comes through clearly in the recording. Read with love and enjoyment because you love reading and you want to instill this with the children
  • These stories are recorded on/in whatsapp. So mostly there is no indication what was sent Please send a separate message immediately after posting your story, mentioning the name of your story and appropriate age group(if you know it). As already mentioned in 2 above.
  • Please pronounce the words very clearly and pay attention to and honour punctuation marks. Keep in mind that the stories are sent out to children whose first and even second language is not English
  • Please note that the organizing team listen to all the stories before sending them out. If there is a technical problem or it is unsuitable, the story will be destroyed.

Please save the following on your phone: Helene Book reading +27 823414550