My Storie: Die lewe in isolasie

raphael-schaller-Cz_Xbm3Jyyw-unsplashDeur Daantjie Badenhorst

In 1980 het Joan Armatrading ‘n treffer met “Me myself “I gehad.

Die boodskap van hierdie liedjie was dat sy alleen in die lewe kon regkom en nie interaksie met mense nodig gehad het nie. Die corona-virus het my egter laat wonder of dit hoegenaamd moontlik is om afgesonderd te lewe.

Ek is ‘n ambivert; ‘n kruising tussen ‘n introvert en ‘n ekstrovert. Ek hou niks van groot groepe mense nie en ek wil soms my eie ding doen, maar tussen die regte mense kan ek lekker kuier. Ek sal van my kop af raak as ek heeltemal afgesonderd moet wees.

Ek is dankbaar dat die corona-virus nie twintig jaar gelede, toe sosiale media nog nie bestaan het nie, uitgebreek het nie. In hierdie tyd, in die jaar 2000, was ek nog heeltemal enkellopend en ek het nog alleen gewoon. Hoewel ek by ‘n jeugaksie van die plaaslike gemeente betrokke was, sou ‘n virus soos hierdie een gemaak het dat ek hoegenaamd geen kontak met my vriende, of met die buitewêreld sou hê nie, en daar was ook niemand wat my in daardie tyd sou kon ondersteun nie. Gelukkig het die wêreld intussen drasties verander. Danksy Facebook, WhatsApp en ander sosiale media het ek ‘n spul mense landwyd, en in ander dele van die wêreld, ontmoet. Ek weet ek sal sommige van hulle nie sommer van aangesig tot aangesig sien nie, want ek kry selde die geleentheid om te reis. Jy kan nie vir ‘n selfoon of ‘n rekenaar ‘n drukkie gee, of saam met een koffie of ‘n bier gaan drink nie, en terwyl die isolasietydperk van krag is, maak dit nie saak nie. Ek dink egter dat interaksie met mense, veral van aangesig tot aangesig, belangrik is.

So, hoe oorleef ‘n mens die volgende drie weke? As jy Wi Fi het, is dit maklik, want jy kan deur sosiale media kommunikeer en as jy gelukkig is om te kan voortgaan met jou werk deur met jou werkgewer deur middel van e-pos te kommunikeer, is dit seker nie so ‘n groot probleem nie. Jy kan ten minste nog op hierdie manier interaksie met die buitewêreld hê, maar ook dit is nie altyd die antwoord nie, want ‘n mens raak moeg daarvoor. Ongelukkig is daar geen regstreekse sport nie en die sportkanale bly net voortbestaan deur herhalings te wys van sportgebeurtenisse wat almal al tot vervelens toe gesien het.  Daar is darem ook nog rolprente waarna ‘n mens aanlyn kan kyk, maar weereens is daar baie wat die meeste mense al gesien het. Die programskedule van een of twee kanale verander binnekort en daar is nuwe programme waarna ‘n mens kan uitsien. Nie almal is egter televisiekykers nie, en daar is ook diegene wat net op een of twee kanale aangewese is.

Die vraag is, wat doen ‘n mens nou? Sommige mense het groot CD- of DVD-versamelings, maar weer eens is dit nie vir almal die antwoord nie, want ‘n mens raak dalk verveeld as jy vir die honderdste keer na dieselfde DVD gekyk of na dieselfde CD geluister het. Daar is sekere DVD’s waarna ek kan kyk en wat ek elke keer sal geniet, maar ek weet nie of ek noodwendig na dit alles wil kyk nie. Die vraag is ook of ‘n mens altyd vermaak wil, of behoort te word. Daar is ‘n grap in omloop waarvolgens ‘n getroude man kastig die dinge sal kan doen waarvoor hy nog nooit regtig tyd gehad het nie. Dis dalk nie ‘n slegte idee om ‘n projek waaraan jy so lank al werk en waarvoor jy nooit tyd kry nie, te voltooi nie. Nie almal is handvaardig nie, maar as jy wel is, kan jy dalk herstelwerk in en om die huis oorweeg. Vir diegene met skoolgaande kinders is dit moeilik, want hoe hou jy hulle die heeltyd besig? Miskien kan daar saam speletjies gespeel of kos gemaak word, of anders kan kinders help om huistake te verrig. Dit sal nie net verveling teenwerk nie, maar hulle ook verantwoordelikhede leer.

Die ander moontlikheid is om tyd saam met God deur te bring. Daar is baie dinge waarna mense gryp in hierdie soort tye; ek het besluit om my nie hieraan skuldig te maak nie. Miskien moet ons weer tyd maak om God se Woord te bestudeer en met Hom te praat. Een goeie gevolg van die virus is dat verskillende gemeentes hul eredienste op You Tube plaas. Natuurlik moet ons gemeente voorkeur geniet, maar ons kan ook moeite doen om na ander boodskappe te luister. Dit sal goed vir ons as kinders van die Here wees om verskillende perspektiewe te kry.  Hopelik sal die gemeentes wat hul boodskappe aanlyn beskikbaar stel, voortgaan om dit te doen wanneer alles weer normaal is. Hoewel dit roekeloos is om die virus summier as “God se straf” te beskou, is dit dalk nou die tyd vir introspeksie, en die kans om jou saak met God reg te maak.

Die moeilikste drie weke wat sommige mense in hul leeftyd ervaar het, lê voor ons, maar soos Paulus in Filippense 4 vers 13 (Die Boodskap) sê: “Vir die goeie en die slegte sien ek kans, omdat Christus my bron van krag is.”


MY STORIE maak deel uit van ons gemeente se skryfprojek.  Skuilkrans NG Gemeente glo in die belangrikheid van elkeen se storie.  Dit is ten diepste ‘n getuienis van hoe God in jou lewe werk en dit versterk die liggaam van Christus.  Deel gerus jou storie deur dit te stuur aan Annabelle by kleingroep@skuilkrans.co.za   ‘n Foto of prentjie is ook welkom.

My Storie is ‘n skryfprojek in samewerking met ons Leef Weer Trauma en Beradingsentrum.  Leef Weer Trauma  is n beradingsentrum wat gratis berading gee aan die gemeenskap en aan gemeentelede.  Kontak ons gerus by 063 712 6346 indien jy met iemand wil praat oor enige trauma of krisis.