My Storie: MY GELOOFSREIS MET ASPERGER-SINDROOM

Deur Daantjie Badenhorst

Ek kan nie onthou wanneer ek die Here aangeneem het nie; ek het Hom van kleins af gedien en ek het nie ‘n datum wat ek tot bekering gekom het nie.

Ek leef saam met Asperger-sindroom; ‘n vorm van hoogfunksionerende outisme, maar toe ek ‘n kind was, het min mense daarvan geweet, of regtig omgegee. Onder die simptome is ‘n intense en obsessiewe belangstelling in ‘n paar onderwerpe, gebrek aan handvaardighede, gebrek aan sosiale vaardighede, lompheid, oor- of onderreaksie op sintuiglike stimulasie, onvanpaste of hoogdrawende taalgebruik en die onvermoë om oogkontak te maak. Gelukkig het ek sommige van hierdie simptome ontgroei. Daar is egter nog ‘n paar waarmee ek saamleef, en ek het besluit om maar vrede daarmee te maak. Daar is een voorliefde waaroor ek liewer niks wil sê nie, maar waarvan sommige mense wel bewus is; ek het dit lank stil gehou totdat ek iemand leer ken het wat my aangemoedig het om daaroor te praat. Ek het wel ‘n Facebook-groep gestig vir mede-liefhebbers nadat ek gesien het dat so iets nie in Afrikaans bestaan het nie, maar ek nooi net sommige mense om daarby aan te sluit omdat ek bang is vir skinderstories.

Ek is seker een van die min mense wat al die amptelike sangbundels van die kerk eerstehands beleef het, en van kleins af het ek besef dat ek ‘n aanleg vir musiek het. Ek het nie altyd die woorde van sommige halleluja-liedere, psalms of gesange verstaan nie, maar dit was nie vir my moeilik om ‘n wysie aan te leer nie. Ek het egter gesukkel om klavier te leer speel, juis omdat ek ‘n probleem met handvaardigheid het. Dit is ook hoekom ek nie kitaar kan speel nie. Ek het egter feitlik my lewe lank altyd ‘n plek gekry waar ek kon sing. Ek het vir die eerste keer in die openbaar opgetree toe die junior-laerskoolkoor, waarvan ek deel was, by ‘n onderwyseres se huweliksbevestiging gesing het. Op senior laerskool het ons skool ‘n operette opgevoer en ek het in die koor gesing. Ek het egter glad nie van die tipe musiek gehou wat ons gesing het nie. Nadat my stem gebreek het, het ek in die hoërskoolkoor en die Noord-Transvaalse Jeugkoor gesing en sedertdien was daar nog altyd ‘n plek waar ek my talent en liefde vir musiek kon uitleef.

Ek het op skool maar gesukkel om vriende te maak omdat my belangstelling in motors ‘n obsessie was en ek oor niks anders wou praat nie, al het ek destyds al ‘n breë algemene kennis gehad. Dit het baie moontlike vriende vervreem, en spanning op my verhouding met sommige familielede veroorsaak. My geloofsoortuiging het ook op hoërskool gemaak dat ek nie meegedoen het aan die verkeerde dinge waarmee my “maats” hulle besig gehou het nie. Ek was ook nooit in ‘n ernstige verhouding betrokke nie, hoewel ek ‘n paar Christen-vriendinne gehad het. Ek het ons skool se matriekafskeid alleen bygewoon; my vriendinne is egter vroeg in die jaar reeds gevra en die meisie saam met wie ek wou gaan, maar wat nie een van my vriendinne was nie, het geweier. Toe ek verplig was om diensplig te verrig, was my geloof dat dinge eendag beter sou gaan, die een ding wat my deurgedra het, veral omdat ek my diensplig onder die moeilikste omstandighede moontlik moes verrig.

Na skool was ek in ‘n gemeente waar ek wel my musiektalent kon uitleef, maar ek was ongelukkig omdat een van die predikante, wat nogal die jeugpredikant was, my nie aanvaar het nie en sommige mense wat deel was van die jeugaksie waaraan ek behoort het, my probeer verhinder het om in te skakel. Ek het nie ingepas nie; ek was enkellopend en ouer as sommige van die jongmense wat deel van die groep was. Omdat ek nie ‘n gesin gehad het nie, kon ek ook nie by die mense saam met wie ek gesing het, inpas nie. Ek was op die kerkraad, maar ek het ontuis gevoel omdat ek jonger as baie van my mede-kerkraadslede was en hul lewensomstandighede van myne verskil het. Ek kon nie gou genoeg padgee nie.

Ek het weliswaar deur ‘n vriend van my by Skuilkrans se destydse BKJA betrokke geraak en vriende gemaak. Nie ek of hy was volwaardige lidmate van die gemeente nie, maar hier was ‘n kans om met Christen-jongmense kennis te maak en my geloof uit te leef. Dit was lekker om Vrydagaand-byeenkomse en aanddienste op ‘n Sondag by te woon en na afloop van die diens saam te sing. Ek moet egter ook sê dat lof-en-aanbiddingsmusiek die afgelope dertig jaar ongelooflik verbeter het. Omdat afstand ‘n probleem geword het, en die jeugaksie waarvan ek netnou vertel het, gestig is, het ek net drie jaar lank in die BKJA gebly. Ek het ‘n paar dienste in charismatiese denominasies bygewoon, maar gou besef dat ek nie daar hoort nie. Ek haat hulle nie; ek stem net nie saam met sommige van hul leerstellings nie en ek hou nie daarvan as emosie deel uitmaak van godsdiensbeoefening nie. Daar was nooit ‘n versoeking om na een daarvan oor te gaan nie al was dit destyds ‘n modegier onder jongmense van my ouderdom.

Nadat ek by twee verdere gemeentes betrokke was, het ek en my gesin in 2008 volwaardige lidmate van die gemeente geword. Ons was voor die tyd vyf jaar lank in Silvertonkruin en ek wens dat ons van die begin af by Skuilkrans ingeskakel het omdat die gemeente reeds vir my bekend was. Ek is betrokke by die musiekbediening en die gemeente het ons al in moeilike tye bygestaan, waaroor ek ontsettend dankbaar is.

My lewensleuse kom uit Psalm 16 vers 8: Ek het die Here altyd by my; omdat Hy by my is, sal ek nie struikel nie.


MY STORIE maak deel uit van ons gemeente se skryfprojek.  Skuilkrans NG Gemeente glo in die belangrikheid van elkeen se storie.  Dit is ten diepste ‘n getuienis van hoe God in jou lewe werk en dit versterk die liggaam van Christus.  Deel gerus jou storie deur dit te stuur aan Annabelle by kleingroep@skuilkrans.co.za   ‘n Foto of prentjie is ook welkom.

My Storie is ‘n skryfprojek in samewerking met ons Leef Weer Trauma en Beradingsentrum.  Leef Weer Trauma  is n beradingsentrum wat gratis berading gee aan die gemeenskap en aan gemeentelede.  Kontak ons gerus by 063 712 6346 indien jy met iemand wil praat oor enige trauma of krisis.