Kleingroepbediening – Het jy geweet?

Helena Snyman vertel ons die week oor haar besonderse groep.

Ons groep bestaan op die oomblik uit 6 mense wat ongereeld op Dinsdagaande bymekaarkom. 

Almal is alleenlopers wat al ‘n lang pad saamloop. Ons omstandighede is op die oomblik uitdagend en ons het geleer om baie 

aanpasbaar te wees met ons byeenkomste. Met die reeks Aan tafel met Jesus het ons met zoom die bespreking gedoen, met ‘n paar wat saam om ‘n tafel met die ander kon praat. Ons groep neem graag deel aan gemeente aktiwiteite, en om op te maak vir die Dinsdagaande wat ons dalk mis kom ons ook soms sosiaal bymekaar. Ons groep is naamloos, en ons poog om Bybelstudie saam te doen,  maar is eerder ‘n omgeegroep.

Kontak Annabelle 083 4155 755 om deel te word van hierdie of enige ander groep.

Kleingroepbediening: Het jy geweet?

Joan Nel skryf hierdie week oor hulle lekker kleingroep: Ons is ‘n groep van so 12 mense wat ons op Bybelstudie toelê. Ons kom Donderdagoggende om 09:00 in die kapel by die kerk bymekaar.

Ons is baie bevoorreg om vir prof Piet Meiring as ons studieleier te hê. Hy deel sy ongelooflike kennis en ondervindings met ons en elke week gaan die tyd te gou om! Daarby bring hy pragtige musiek saam waarmee ons gewoonlik begin – en natuurlik ook ‘n grappie! Ons deel in mekaar se lief en leed en doen voorbidding waar nodig.

Ons groep bestaan tans meer uit seniors, maar enigiemand wat behoefte het aan sinvolle Bybelstudie is welkom om aan te sluit. Ons behandel tans die Twaalf Artikels.

Kontak my gerus oor hierdie of enige ander groep.

Annabelle 083 4155 755 of voltooi ons aanlyn vorm.

Hekel en Brei saam met Skuilkrans gemeente

Die Covid pandemie het 2 goed kom wys wat ons ma’s en oumas lank reeds geweet het: Mense het mekaar nodig en handwerk is goed vir ‘n mens!

Ons gemeente het nou reeds twee handwerkgroepe wat fluks werk vir uitreike. Rina Gouws se Atha Shawl projek het reeds oor die 500 troos tjalies gemaak aan mense in rou of wat deur ‘n besonderse moeilike tyd gaan. Cecily Botha se groep maak berge mussies en komberse wat na ouetehuise en straat evangelisasie projekte gaan. Kontak my gerus indien jy ook van die huis af wil deelneem aan hierdie projekte.

Wol vriende
Nou het ons gedink dis tyd dat vriendskappe en samesyn ook aandag geniet en van volgende kwartaal af wil ons graag begin met ‘n groep vriende (ja mans is ook welkom!) wat wil kom saam brei en hekel. Ons kan nog gesels oor tye, maar ons het gedink Maandagoggende 10:00 tot 11:00 by die kerk.

Wat brei en hekel ons?

Ons gaan items brei en hekel wat saam kan gaan op gemeente uitreike soos bv. musse, bedsokkies, kinderspeelgoed en kombersies. Ons wil graag ander bederf met ‘n knus wol geskenkie in die winter.

Wat bring jy saam?

Enige maklike patrone, wol, penne en vriende – selfs van buite die gemeente.

Indien jy nie kan/wil deelneem nie, is jy steeds welkom om wol en penne te skenk vir enige van ons groepe.

Kontak Annabelle Lombard gerus by 083 4155 755 om in te skakel. Indien jyself of ‘n maat nog redes nodig het om oortuig te word – hier is ‘n hele paar:

Die terapeutiese waarde van brei en hekel
Brei en hekel is ‘n baie gewilde tydverdryf vir oud en jonk en dit het groot neurologiese, fisiese en emosionele voordele.

  • Brei en hekel is neurobeskermend. Dit bevorder kognitiewe funksie en kan toestande soos demensie bekamp.
  • Dit is voordelig vir kognisie en sig.
  • Chroniese pyn soos rumatoïede artritis kan verlig word as jy gereeld brei of hekel.
  • Brei en hekel word ook aanbeveel vir mense wat limfkliere verloor het, want dit stimuleer die beweging en dreinering van limfvloeistowwe.
  • Verbeelding en kreatiwiteit word gestimuleer en jy kan uiting gee aan die skeppende deel van jouself.
  • Dit verbeter spier koördinering en fyn motoriese vaardighede.
  • Konsentrasie en geheue verbeter danksy die breinstimulering wat patroonherkenning en hand-oog-koordinasie veroorsaak.
  • Die sosiale interaksie versterk jou immuniteit en algehele welsyn.
  • Navorsing wys dat brei en hekel mense kan help om trauma en verlies te hanteer.
  • Dit bekamp ook depressie en dra by tot emosionele- en geestes gesondheid.

Aan Tafel Met Jesus Gemeentereeks

Alles wat jy moet weet

Eerskomende Sondag skop ons eerste Gemeentereeks vir die jaar af en gaan ons vir 6 weke fokus op Aan-tafel-wees, binne die groter jaartema van “Vreemdelinge word Vriende”. Die reeks gaan dus tot die einde van die eerste kwartaal duur. Ons nooi almal hartlik uit om hierby in te skakel!

Eredienste

Alle eredienste gaan rondom die reeks beplan word. In die gesins- en aanddiens gaan gesinne rondom tafeltjies in die saal saampraat en die oggenddiensrooster lyk as volg:

Aan tafel met Jesus – reeks (6 Februarie – 13 Maart)

6 Febr  Lukas 24:13-35 Emmaus  – Om God te sien – Willem Boshoff
13 Febr  Lukas 7:36-50 Jesus by Simon, Fariseër  – God is by dié saam met wie Hy eet  – Nico Swart
20 Febr  Lukas 22:7-23 Paasmaaltyd –  Ons is wat ons eet  –  Ds. Freek Swanepoel
27 Febr  Lukas 14:1-14 Gelykenis oor beskeidenheid en gasvryheid – Ons is hoe ons eet  – Willem Boshoff
6 Maart  Lukas 14:15-24 Die gelykenis van die groot maaltyd – God is hoe Hy eet   – Nico Swart
13 Maart  Handelinge 2:41-47 Petrus en Kornelius –  God is met dié saam met wie ons eet  – Martin Reid

Nuwe Kleingroepe

3 Nuwe kleingroepe is gevorm spesiaal vir die reeks en vergader by die kerk

  • Dinsdagaande 18:30 – gemengde groep, vergaderlokaal
  • Woensdagoggende 9:15 – gemengde groep, vergaderlokaal
  • Sondagaande na die aanddiens 18:30: Krans-ouers, vergaderlokaal

Jy kan hierby inskakel of jy is welkom om jou eie groepie te vorm. Kontak Annabelle nog hierdie week: 083 4166 755 of vul die aanlynvorm in.

Bestaande Kleingroepe

Ons nooi ons huidige kleingroepe ook om deel te neem aan die reeks. Ons stuur elke week ‘n uitgewerkte Bybelstudie wat groepe kan doen. Groepe is welkom om terugvoer vir Ds. Willem of Annabelle te stuur. Dit sal vir ons lekker wees om te hoor hoe julle dink oor die temas.

Kleingroepleiers

Maandagaand 7 Februarie is daar ‘n leiersbyeenkoms in die kapel om 18:30 tot 20:00. Bring asb. iets te ete saam. Ds. Willem gaan ‘n inleiding gee oor die reeks en ons jaarbeplanning vir kleingroepe bespreek. Enige groeplede is ook welkom om dit by te woon.

Kleingroep materiaal en ekstra leeswerk

Ons leraars werk elke week ‘n kleingroep Bybelstudie uit – ons noem dit ‘n Praatpapier. Ons versprei dit op ons whatsappgroep vir kleingroepleiers en ons gemeente se webtuiste.

Buiten die materiaal wat die leraars elke week sal verskaf, is daar ook ‘n boekie van Cas Wepener wat ons kan aanbeveel: Aan tafel met Jesus. Dit is onmiddellik beskikbaar as ‘n e-boek by Bybelmedia @R85.

Iets oor die reeks (Uit die Skuilkransnuus van 30 Januarie)

Aan tafel met Jesus – reeks (6 Februarie – 13 Maart) In sy bekende boekie Food for thought: a philosopher’s cookbook skryf Martinus Versfeld:

Nothing is more indicative of what you are than your food and table customs.

Daar is met ander woorde min dinge wat so baie verklap van wie mense werklik is as die kos wat hulle eet en die wyse waarop hulle dit doen.

Gaan staan ’n paar oomblikke stil en kyk wat mense eet, hoe hulle dit eet, waar hulle eet, saam met wie, en saam met wie nié; let op hoe en waarom hulle nie (nou) eet nie – en jy sal bes moontlik meer oor dié mense te wete kom as wat hulle dalk sou wou hê jy moet weet. Jy sal meer uitvind oor die soort mense wat hulle is, as wat jy sou geweet het indien jy hulle net sou vra wie hulle is. In sekere sin is etes dus soos prentjies: Dit spreek op ’n baie ekonomiese wyse boekdele oor die mense aan die eettafel. Hierdie feit – dat kos en eetgewoontes ’n kernaspek van mense se identiteit vorm – het Jesus baie goed besef en ook benut.

Deur die Bybel heen speel kos en eet- en drinkgewoontes ’n sentrale rol in die (godsdienstige) lewe van mense. Die plek en rol van die pasgamaal in die Ou Testament is goed bekend en so ook die rol van die nagmaal in die Nuwe Testament. Hierdie Bybelse eetgeleenthede vertel ons egter van meer as net die mense wat by hierdie maaltye aangesit het. Dit sê vir ons iets meer van wie God is. Indien ons is hoe ons eet, dan is God ook hoe Hy eet, en laasgenoemde sien ons veral in Jesus se tafelmaniere.

Aan tafel met Jesus (waardeur ons as gemeente vir die volgende paar weke gaan reis), is bedoel vir mense wat graag die Here se (soms swak!) tafelmaniere beter wil leer ken en dit self wil aanleer as ’n deel van dissipelskap. Dissipelskap gaan immers oor hoe ons as volgelinge (dissipels) van Jesus behoort te leef. Maar ’n mens kan nie die vraag “Hoe moet ek leef?” beantwoord tensy jy jou ook besig hou met vrae soos “Wie is God?”, “Wie is ek?” en “Hoe lyk die samelewing waarbinne ons leef?” Die boek suggereer ook deurlopend dat individue en gemeenskappe wat Jesus se tafelmaniere aanleer, ook op ’n diepliggende wyse sal leer om verhoudings te bou, of te verbeter. En beter verhoudings in en tussen (geloofs)gemeenskappe is onontbeerlik vir positiewe sosiale ontwikkeling.

Kom reis saam met ons vanaf 6 Februarie tot 13 Maart soos ons saam dink en kuier rondom ‘n paar tafel tekste in Lukas en Handelinge. Ons kuier rondom hierdie tekste in al ons eredienste, maar wil ook letterlik om etenstafels kuier gedurende hierdie tyd. Daarom nooi ons jou uit om ook in te skakel by ‘n kleingroep vir die volgende paar weke soos ons meer oor Jesus se tafelgewoontes, en mekaar s’n, leer (registreer hiervoor op ons webblad). Soos Cas Wepener vir ons uitwys, speel die etenstafel ‘n beduidende rol in ons samelewing.

In Skuilkrans hoop ons dat die etenstafel ook hierdie jaar na ‘n rowwe 2020 en 2021, ‘n spasie sal word waar vreemdelinge vriende word en waar nuwe verhoudings gebou word en nuwe vriendskappe gevorm word binne Skuilkrans.

Ds. Gerrie (verwerk vanuit Aan tafel met Jesus)

Vir enige navrae kontak enige leraar of myself:
Annabelle Lombard
Bedieningsbestuurder
083 415 5755
kleingroep@skuilkrans.co.za

My storie: Die syfer 41

Hannes Van Rensburg

Dankie vir die geleentheid om my storie met julle te deel en byvoorbaat dankie dat julle dit gaan lees.

In die begin van Januarie 1998 het ek wakker geword, en soos ek uit die bed wou opstaan, het ek op die vloer geval. Ek was verlam en is gediagnoseer met Guillian Barre sindroom – ‘n tipe auto immuun siekte.

Ek was ook in erge pyn – het nie geweet mens kan soveel pyn ervaar nie.

Soos ek verstaan, val jou eie teenliggaampies jou liggaam aan en vernietig die proteïne in jou rugmurg.

Die boodskappe van jou brein kom dan nie meer by jou spiere uit nie en dus werk jou spiere nie, en raak jy verlam.

Dit val ook jou organe aan. Gelukkig was my organe nie so erg aangetas nie.

Hulle het my so drie weke in Kimberley behandel, maar my toestand het stagnant gebly.

Die spesialis het omtrent met trane in sy oë, taktvol vir my gesê, dat ek miskien maar my sake en testament in orde moet kry.

Dit was baie erg. Dit is regtig verskriklik om te weet daar is ‘n goeie kans dat jy kan doodgaan. My kinders was 3 en 1 jaar oud.

Hulle besluit toe om my oor te plaas Bloemfontein Universitas toe.

Kort voor ek Bloem toe gaan, het ek een nag die heelnag deur gebid en God gesmeek en gepleit dat ek mag lewe.

Ek onthou toe later van Hiskia wat op sy doodsbed gebid het vir genade om nog langer te lewe en dat God hom 15 jaar ekstra gegee het.

Die masjien waaraan ek gekoppel was, en wat medisyne in my are laat vloei het, het so ‘n irriterende “beep”-geluid gemaak elke keer as dit ‘n druppel vrystel.

Wanneer dit leeg is, hou dit op beep en maak ‘n harde skree-geluid as teken dat dit ‘n nuwe dosis medisyne moet inkry.

So, net voor sonop was ek totaal gedreineer en bid toe dat God my asseblief so oud kan laat word soos wat die masjien nog kere gaan “beep” voor dit leeg is.

Toe begin ek tel en die masjien skree toe op 41 tellings.

Ek het vreemd rustig gevoel in my hart, en dankbaar – het geglo dat God 13 jaar tot my lewe sal byvoeg vanaf 28 tot 41.

‘n Dag of twee later is ek Bloemfontein Universitas toe waar hulle heelwat toetse en ondersoeke op my gedoen het.

Die uitslae het daarop gedui dat ek nie verder verswak nie.

Dit was basies al wat hulle vir my kon doen, ek moes huis toe gaan en my liggaam gaan hopelik begin terugbaklei.

Daarna het ek baie stadig begin herstel. Was nog so drie maande gedeeltelik verlam voordat ek kon sê ek kan weer loop, maar die pyn was altyd daar tot vandag toe nog, gelukkig minder. Vir 18 maande het my werkgewer ‘n bed in my kantoor laat sit – ek kon nie voltyds werk nie, was baie af-siek en het geen verhoging kon kry nie.  

Die mediese koste was baie hoog en my medies het nie alles betaal nie.

Na twee jaar was ek geskei en finansieel het dit baie sleg gegaan.

My gesondheid het nog steeds bietjie vir bietjie verbeter.

Later het ek na ‘n kleinerige dorp in die Noord Kaap getrek, Postmasburg, in die hoop op ‘n rustiger lewe en beter gesondheid.

Na ‘n paar jaar van voortploeter, het ek besef ek gaan nooit so finansieel herstel en voortuit kan gaan nie.

Eendag blaai ek in die Spar deur die Volksblad en my oog vang die daaglikse Bybelboodskap. Dit eindig met die woorde: “soms wil God hê jy moet ‘n sprong in die teenoorgestelde rigting neem.”

Die volgende dag doen ek aansoek vir werk in Johannesburg – die plek waarvoor ek die bangste was, en dus vir my die teenoorgestelde rigting voorgestel het.

Ek kry toe werk met my eerste aansoek, teen dubbel my salaris, en binne twee weke was ek in Johannesburg.

Ek het al my wêreldse besittings in my ou Toyota Corolla gelaai en Johannesburg toe gery en ‘n gemeubileerde woonstel in Turffontein gehuur.

Het ook nog heelwat skuld gehad.

My finansies het onmiddellik begin verbeter en my gesondheid nog steeds geleidelik beter geword, alhoewel ek so een keer elke twee jaar ‘n terugslag gehad het.

Soos ek ouer word, het die 41-storie heeltyd in my agterkop gebly. Ek was nog steeds dankbaar, maar dit het soos ‘n swaard oor my kop gehang.

Soos die tyd naderkom, het ek respekvol begin bid en God gevra of ek dalk langer mag lewe as 41 jaar.

Ek het in my hart geweet dat God my gebed daardie nag verhoor het – dit was dan nou al amper 13 jaar daarna en ek leef nog. Mag ek vir nog vra?

Ek was toe woonagtig in Edenvale en was die NG Kerk Edenvale se finansiële beampte. Ek was baie dankbaar dat ek basies normaal kon lewe en werk, en mens raak aan baie dinge gewoond, selfs aan konstante pyn.

Die Sondag voor ek 41 word, gaan ek kerk toe en gaan sit heel agter in NG Edenvale se kerk. ‘n Jongerige gesin wat ek glad nie ken nie kom sit langs my.

Na die dominee se preek sê hy dat iemand nou ‘n getuienis gaan lewer, en hier staan die man langs my op.

Hy vertel toe in sy getuienis hoe hy ‘n paar jaar gelede Guillian Barre-sindroom gehad het en amper gesterf het; hoe hy ernstig tot God gebid het en dat hy oorleef het en so goed herstel het om nou hier te kan staan.

Ek was absoluut stomgeslaan, ek kon dit eenvoudig nie glo nie – ek bedoel wat was die “odds”!

Toe die man terugkom en weer plaasneem, sê ek vir hom ek het ook Guillian Barre gehad.

Ons praat toe agterna ‘n bietjie en hy gee my sy e-posadres – dit was ‘n UJ e-posadres.

Ek skryf toe vir hom ‘n lang e-pos en vertel my verhaal en stuur dit vir hom, maar hy antwoord my eers ‘n maand later.

Sy ma vertel my later dat my e-pos by ‘n ander persoon uitgekom het – ‘n persoon wat baie siek was. Hierdie persoon het dit versprei na ander mense wat siek was en hulle het almal hoop gekry.

Na daardie Sondag was ek gevul met God se krag en ek was sommer positief, vol blydskap en dankbaarheid.

Twee en ‘n half maande later is ‘n familielid baie na aan my oorlede in ‘n ongeluk, wat verreikende gevolge vir my en ‘n paar ander mense gehad het. Dit het ‘n sneeubal-effek gehad wat my lewe drasties verander het. My grootste droom tot op daardie stadium het indirek hierdeur waar geword en ek het ook ‘n klomp verantwoordelikhede gekry en moes harder werk. Skielik het dit my getref, 41 is nie die einde nie – dit is die begin van ‘n heeltemal ander, nuwe lewe! Wil net noem dat ek geensins sê die ongeluk is veroorsaak deur my gebed nie – ‘n ongeluk is presies wat dit sê, ‘n ongeluk – meestal veroorsaak deur menslike foute.

My nuwe lewe was ontsettend besig en so twee jaar later kom ek by ‘n dokter uit wat sê ek moet gym toe gaan en stadig begin oefen.

Ek het Januarie 2013 begin oefen en toe tot en met Covid nie een keer ‘n terugslag gehad nie.

Na ‘n geleidelike begin met die oefeninge, het my gesondheid dramaties verbeter, tot so ‘n mate dat ek vyf keer ‘n week, so twee ure op ‘n slag, kon oefen – en dit geniet.

Ek het nog steeds pyn gehad, maar dit was hanteerbaar, het eintlik fisies goed gevoel.

Ek glo God praat met mens in ‘n taal wat jy verstaan. Syfers speel ‘n baie groot rol in my lewe en hoe ek dink oor goed.

Na my 41ste verjaardag, het ‘n ongelooflike ding begin gebeur – verskeie kere wanneer ek benoud of beangs gevoel het, het die syfer 41 skielik voor my opgeduik!

Bv. ek ry na ‘n stresvolle vergadering toe en terwyl ek bid vir sy hulp, kyk ek links en daar is ‘n nommer 41 op die huis waar ek verby ry.

Of ek stres en as ek na die tyd kyk is daar ‘n 41 in die tyd, hetsy minute of sekondes.

Dit het intussen letterlik al honderde kere met my gebeur – alles onwillekeurig.

Ek wil gou vir julle ‘n baie onlangse voorbeeld noem:

  1. Op Maandagaand, 7 Junie, begin ek hierdie getuienis tik. My vrou en die kinders is besig in die kombuis om toebroodjies te maak vir die skool se toebroodjieprojek. My vrou moet die volgende oggend vroeg ingaan kantoor toe en vra ons bediende om die boks toebroodjies uit te vat vir Irma Loots van ons kerk wat dit gaan kom oplaai en skool toe vat. Dinsdagoggend, eerste ding, lees ek deur my getuienis en ek dink: nee wag, ek beter hierdie 41-storie uithaal, want die mense gaan dalk dink ek oordryf. Die volgende oomblik toet ‘n kar buite. Die dame is by ons huis en ons bediende het verslaap. Ek maak die hek oop, sy trek in en ek gryp die boks toebroodjies en vat dit uit na haar toe. Ons gesels ‘n bietjie en laai die broodjies in haar kar se kattebak. Ek staan voor die garage toe sy uitry, en soos ek vir haar waai, sien ek haar motor se registrasienommer het die syfer 41 in! Ook letters, maar ja, ‘n baie duidelike 41. Toe het ek ook sommer moed gekry om my getuienis met julle te deel.

Om terug te kom na my fisiese gesondheid – in Maart 2020 was dit natuurlik Covid en harde lockdown, en ek kan nie meer behoorlik by gymoefen uitkom nie. Het probeer by die huis oefen, maar kon voel ek gaan geleidelik agteruit, en in Januarie vanjaar kry ek my eerste groot terugslag sedert 2012.

Ek moet sê, ek was baie moedeloos en hartseer dat ek teruggeval het na heelwat van my fisiese probleme, en het nogal jammer gevoel vir myself.

As ek reg onthou, het ds. Nico op die oggend van 7 Maart vanjaar sy eerste preek gedoen na sy fietsongeluk. Sy preek daardie oggend het my baie diep getref en weer moed gegee.

Toe ek die eerste keer die boodskap van “Adam’s Return” in Richard Rohr se boek gelees het, in ‘n artikel van Stephan Joubert, het dit ‘n baie groot indruk op my gemaak.

Nico het daardie Sondagoggend oor die vyf punte gepreek, nl: die lewe is hard; ek is nie belangrik is nie; my lewe gaan nie oor my nie; ek is nie in beheer nie; en dat ek gaan doodgaan.

Dit het beslis my siening van baie dinge verander.

Om toe sy preek daaroor te hoor, het my vertroos en laat voel ek is nie alleen nie – hy, en baie ander mense, is ook in so ‘n tipe bootjie. Soiets kan met enigiemand gebeur.

Dalk moet mens nie vra hoekom ek nie, maar eerder hoekom nie ek nie.

Ek doen nou so ‘n paar fisio-oefeninge op klein skaal, en gaan stap ook gereeld met my kierie.

Ek is baie ouer as my vorige terugslag en alles vat langer, maar ek hoop om so oor ‘n jaar weer te wees waar ek was.

My grootste uitdaging is om geduldig te wees en dit stap vir stap te vat.

Ek het darem al vordering gemaak vanaf Januarie tot nou toe.

Intussen is ek steeds elke dag dankbaar om te lewe!

Alle dank en eer aan God!

MY STORIE maak deel uit van ons gemeente se skryfprojek.  Skuilkrans NG Gemeente glo in die belangrikheid van elkeen se storie.  Dit is ten diepste ‘n getuienis van hoe God in jou lewe werk en dit versterk die liggaam van Christus.  Deel gerus jou storie deur dit te stuur aan Annabelle by kleingroep@skuilkrans.co.za   ‘n Foto of prentjie is ook welkom.

My Storie is ‘n skryfprojek in samewerking met ons Leef Weer Trauma en Beradingsentrum.  Leef Weer Trauma  is n beradingsentrum wat gratis berading gee aan die gemeenskap en aan gemeentelede.  Kontak ons gerus by 063 712 6346indien jy met iemand wil praat oor enige trauma of krisis

GROOT LYDENSWEEK Donderdagaand 1 April 2021

Kom rus in God

Aanvangswoord uit Psalm 116

Ek het die Here lief, want Hy verhoor my smeekgebede.
Hy het na my geluister toe ek Hom aangeroep het.
Hoe sal ek die Here vergoed vir al sy weldade aan my?
Met ʼn drankoffer sal ek van sy redding getuig en die Naam van die Here aanroep.
Ek is u dienaar, Here, van my geboorte af is ek al u dienaar: U het my vrygemaak.
Ek wil U loof met ʼn dankoffer, ek wil die Naam van die Here aanroep.
My geloftes aan die Here sal ek betaal in die teenwoordigheid van sy hele volk,
In die voorhowe van die huis van die Here, binne-in jou, Jerusalem! Prys die Here!

Andrei Rublev – Trinity

Andre Rublev se ikoon oor die Drie-eenheid, skilder hy as ‘n dans tussen God die Vader, die Seun en die Heilige Gees. Die sirkel is egter nie voltooi nie, daar mis iets. Onder die tafel is ‘n klein blokkie, oorspronklik was daar ‘n spieëltjie hier vasgeplak. Die idee is dat elke persoon wat na hierdie ikoon kyk, sy/haar eie weerkaatsing raaksien.  Die spieëltjie is ‘n uitnodiging om jou plek in te neem in die dans.

Jy word ook vanaand uitgenooi deel te neem en “rus” te vind in die dans van die Drie-Eenheid. Wees ‘n oomblik stil, kyk, en aanvaar hierdie uitnodiging.

Wit Donderdag is ’n tyd wat verbind word aan Jesus se
laaste maaltyd saam met sy dissipels. Dit is ’n tyd waarin Jesus en sy dissipels van mekaar afskeid
geneem en hulle voorberei het vir wat kom.

Jy kan ’n kersie aan te steek vir iemand wat jy aan die dood afgestaan het. Om dié
mense te onthou wat nie meer met ons is nie, kan ons help om te gaan staan in die skoene van die
dissipels van hulle rabbi moes afskeid neem.


Luister: (kliek op die lied vir die skakel om dit op youtube te luister)

Samuel Barber – Agnus Dei

Ek neem ‘n Woord in my hand
en toets sy gewig.
Ek begin daarna luister
en terwyl ek luister, gebeur iets in my.
Ek sit die Woord weer opsy.
Maar dit is nie meer dieselfde woord nie.
Dit het swaarder geword
deurdat ek dit gehoor het.
Ek self is ook nie meer dieselfde nie.
Die omgang met ‘n Woord is ‘n werk
soos dié van die boer
wat saad op die land uitstrooi.
Die Woord groei en verander die land
totdat die oes daar is.

Jorg Zink

Lees: Matteus 26:36-46


Jesus in Gethsemane – Carl Bloch

Lees: 1 Korintiërs 11:23-26

Gebed:

Almagtige God,
vir wie ons harte oop is,
U ken al ons begeertes,
by U is daar geen geheime nie.
Reinig ons harte en gedagtes
deur die inspirasie van u Heilige Gees
sodat ons U ten volle kan liefhê
en eer kan bring aan u heilige Naam;
deur Jesus Christus ons Heer. Amen.


Ons rig ons gedagtes nou op Jesus Christus, die Seun van God wat mens geword het en onder ons
kom woon het.
Wat in ’n stal gebore is omdat daar geen plek in die herberg was nie.
Wat saam met sy ouers ’n vlugteling in Egipte was.
Wat deur die godsdienstige en politieke leiers van sy tyd geteister en vervolg is.
Wat deur een van sy volgelinge verraai is.
Wat gevange geneem en gemartel is.
Wat tussen twee misdadigers gekruisig is.
Hy was gehoorsaam tot in die dood, ja, die dood aan die kruis.

Sit net ‘n oomblik in stilte

Ons nooi u uit om Ds Nico se Nagmaaldiens Vrydagoggend, 2 April, om 9:00 te stroom op ons YouTube kanaal

GROOT LYDENSWEEK Woensdagaand 31 Maart 2021

Kom rus in God

Andrei Rublev – Trinity

Andre Rublev se ikoon oor die Drie-eenheid, skilder hy as ‘n dans tussen God die Vader, die Seun en die Heilige Gees. Die sirkel is egter nie voltooi nie, daar mis iets. Onder die tafel is ‘n klein blokkie, oorspronklik was daar ‘n spieëltjie hier vasgeplak. Die idee is dat elke persoon wat na hierdie ikoon kyk, sy/haar eie weerkaatsing raaksien. Die spieëltjie is ‘n uitnodiging om jou plek in te neem in die dans.

Jy word ook nou uitgenooi deel te neem en “rus” te vind in die dans van die Drie-Eenheid. Wees ‘n oomblik stil, kyk, en aanvaar hierdie uitnodiging.

Lees: Hebreërs 12: 1-3

Luister: (klik op die lied vir die skakel om dit in Youtube te luister)

Blessed is the man

Gebed:

Hemelse Vader, ek laat die laste wat ek dra, oor aan U, laste wat U nooit vir my bedoel het
nie. Ek werp al my sorge op U – al my bekommernisse, al my vrese. U het gesê dat ek oor
niks besorg hoef te wees nie, maar dat ek alles met dankbaarheid na U toe moet bring.
Vader, kalmeer my onrustige gees, maak my benoude hart stil, maak my besorgde gedagtes
stil met die versekering dat U in beheer is.


Help my om die wedloop wat voorlê, vry en met volharding te hardloop. Hou my oë gevestig
op U, die Begin, en die Voleinder van geloof, eerder as wêreldse dinge wat so dikwels my
aandag wil aftrek en my met nuwe sorge wil belas.

Gee my ligte voete om nie te veel altyd te wil saam dra nie, en verkwik my siel, dat ek nie
geestelik afgemat sal word nie.
Amen.

John Wesley

Seën:

In die wedloop van die lewe
Is die Here voor jou om die pad gelyk te maak.
Liturg is Hy langs jou om jou in sy arms toe te vou.
agter jou om die aanvalle van die Bose af te slaan.
onder jou om jou dra as jy mag val.
rondom jou om jou te beskerm.
bokant jou om jou te seën.
binne jou om jou te lei met sy Heilige Gees.
In die wedloop van die lewe is die drie-enige God by jou, van nou af tot in ewigheid.

Ierse Seën

GROOT LYDENSWEEK Maandagaand 29 Maart 2021

Kom rus in God

Andrei Rublev – Trinity

Andre Rublev se ikoon oor die Drie-eenheid, skilder hy as ‘n dans tussen God die Vader, die Seun en die Heilige Gees. Die sirkel is egter nie voltooi nie, daar mis iets. Onder die tafel is ‘n klein blokkie, oorspronklik was daar ‘n spieëltjie hier vasgeplak. Die idee is dat elke persoon wat na hierdie ikoon kyk, sy/haar eie weerkaatsing raaksien.  Die spieëltjie is ‘n uitnodiging om jou plek in te neem in die dans.

Jy word ook nou uitgenooi deel te neem en “rus” te vind in die dans van die Drie-Eenheid. Wees ‘n oomblik stil, kyk, en aanvaar hierdie uitnodiging.

Lees: Hebreërs 9:11-15

Luister: (klik op die lied vir die skakel om dit op Youtube te luister) Dit begin eers by 1:05

Comforter. A prayer to the Holy Spirit


Gebed:

Christus Here, volmaakte offerlam, dankie dat U die Allerheiligste betree het en vir ons
die ewige verlossing bewerk het deur U bloed. Dankie dat U bloed ‘n teken van reinheid
en vryheid is. Christus Here, u graf en u kruis was nie die laaste woord oor U nie. Dankie
dat die donkerte van ons ellende ook nooit die laaste woord oor ons is nie, omdat U uit
liefde vir ons gesterf, én opgestaan het! U weet dat die lewe ‘n manier het om ons te
breek, sodat ons nooit weer dieselfde kan wees nie. Maar dankie, Here Jesus, dat U in
staat en gewillig is om óf ons situasie óf onsself so te verander dat ons bokant die
donkerte en verdriet kan uitkom, wel met die merktekens van die kruis aan ons, maar
tog ook met iets van die heerlikheid van u opstandingslewe in ons.


Willie Jonker

Seën:

Mag die liefde van die Here Jesus ons na Hom toe trek;
Mag die bloed van die Here Jesus ons reinig en vry maak;
Mag die krag van die Here Jesus ons sterk maak in sy diens;
Mag die vreugde van die Here Jesus ons vervul.
Mag die seën van die almagtige God, die Vader, Seun en Heilige Gees, tussen ons wees
en vir altyd bly.


William Temple (1881-1944)

GROOT LYDENSWEEK Dinsdagaand 30 Maart 2021

Kom rus in God

Andrei Rublev – Trinity

Andre Rublev se ikoon oor die Drie-eenheid, skilder hy as ‘n dans tussen God die Vader, die Seun en die Heilige Gees. Die sirkel is egter nie voltooi nie, daar mis iets. Onder die tafel is ‘n klein blokkie, oorspronklik was daar ‘n spieëltjie hier vasgeplak. Die idee is dat elke persoon wat na hierdie ikoon kyk, sy/haar eie weerkaatsing raaksien.  Die spieëltjie is ‘n uitnodiging om jou plek in te neem in die dans.

Jy word ook nou uitgenooi deel te neem en “rus” te vind in die dans van die Drie-Eenheid. Wees ‘n oomblik stil, kyk, en aanvaar hierdie uitnodiging.

Lees: 1 Korintiërs 1: 18-31

Luister: (klik op die lied vir die skakel om dit in Youtube te luister)

The Call of Wisdom

Gebed:

O Here, U is die bron van alle wysheid en kennis. Dankie dat U vir my, die kans gee om te leer
hoe om ‘n heilige en eerbare lewe te lei. Maak my verstand helder, sodat ek ook kan besef
dat Christus die krag van God en die wysheid van God is – nie wêreldse wyshede wat dikwels
leeg en oppervlakkig is nie.

Here, U beloof dat u wysheid en kennis sal gee aan dié wat aan U behoort en nederig en
gehoorsaam voor U is; en U wil niks te doen hê met dié wat trots is en so baie van hulleself
dink nie. Daarom vra ek, Here, dat U my sal help om nederig te bly. Dan sal ek ook
gehoorsaam wees – aan U.

Gee asseblief ook, Here, dat ek alle lelike gedagtes en begeertes opsy sal skuif. Ek wil graag
na U luister, en my gewillig stel om U te dien op die plek waar U my wil gebruik. Ek wil ook my
diensbaar maak om soos Paulus, U wat gekruisig is, te verkondig aan ander. Amen

Johannes Calvyn

Seën:

Here, verlig my verstand en my interpretasie;
Here, verlig my oë en die manier waarop ek kyk;
Here, verlig my mond en my woorde;
Here, verlig my hart en dit wat ek bedink;
Here, wees met my waar ek nou hiervandaan vertrek. Amen.

Seënbede uit die 15de eeu

Covid Kruisie patrone

Hier is nog n patroon vir Kruisies vir Covid. As jy n Granny Square kan hekel, is hierdie een vir jou. 1) c5, slst in eerste c om sirkel te vorm.

2) c2(tel as eerste dc), maak 4 groepies van 3 dc met c2 tussenin, slst in eerste steek om sirkel toe te maak. 3) Draai werk om, c2 (tel as eerste dc), dc3, c2, dc3 in eerste spasie, c2, herhaal nog 3 keer, slst in eerste steek om sirkel toe te maak.

DRIE KORT ARMS VAN KRUIS(3X) 4) c3, dc3, c2,dc3 in die spasie, tr in vorige ry ( om n reguit lyn te vorm, kyk waar jou c3 vandaan kom), c3. Draai werk om.

Herhaal ry 4 nog 2x ( totaal 5 rye vanaf sirkel). Eindig af. Heg garing aan in die bokant van die eerste dc van die volgende hoek. LANG BEEN VAN DIE KRUIS(1X)

Herhaal ry 4 8x (totaal 10 rye vanaf sirkel). Moenie af eindig nie. 3sc in elke spasie rondom die kruis, (behalwe die binnehoeke = 1sc), buite punte = 1sc in elke dc en 2sc in spasie. Eindig af.

Mengsel om hekelwerk te styf:

2 1/2 eetlepels maizena, 1 koppie koue water en 3 koppies kookwater. Meng die maizena en koue water goed. Gooi kookwater in n kastrol en voeg maizena mengsel by. Prut oor lae hitte vir 5 minute terwyl aanhoudend roer. Laat afkoel tot kamertemperatuur. Doop hekelwerk daarin. Druk droog. Span met spelde en laat droog word.

Lees gerus meer oor die projek in ons vorige blog: