Wanneer die nag meedoënloos-
die dag in gewaande oorwinning
finaal opklad
en wolke die sterre verdring
die sig wegkwyn
tot niks in die sfere verdwyn
en die aarde sy kop gedwee hang
soek hoop met ‘n inneroog
en ‘n oer-oue wete
wat diep in die wese ontkiem
na die eerste haarkrake
van ‘n blinknuwe dag
uit die skoot van die donker gebore
wat onkeerbaar wring
oor die Oosterkim
en groei
en bloei
in prismakleure
tot die lig elke newel verdring
en ‘n kraakvars begin
met verblindende glans
oor ‘n wêreld van vreugde
laat dans.
© Quintin du Plooy
April 2020
Briljante uitbeelding van die diepste betekenis van hoop. Pragtig poëties. Behalwe vir die genot van die lees hiervan bring dit ook hoop in ‘n grendelstaat en enige beproewing.
‘n Voorreg om Quintin te ken. En ‘n paar gedigte van hom sal saam met my bly soos van die “groot digters” se werk. Sy gedig oor ek wou net sê dit het gereën is een van die mees aangrypende mensstories wat ek ken.