My Storie: Skrikkeldag – Terugblik 35 jaar later

evie-s-_IpKsTK9gcE-unsplash

Deur Elsa van Zyl Smit

Pretoria

29 Februarie 2020

Liewe Annemarie,

Vandag was jou twaalfde regte-egte verjaarsdag, maar eintlik sou jy 48 jaar oud gewees het. Skrikkelkind, jy kies toe sowaar die aand van 29 Februarie om by ons gesin te kom aansluit. Ons het toé (gelukkig) nie geweet dat jou verblyf kortstondig sou wees nie. As ek daardie dag ’n keuse sou gehad het, sou ek jou verblyf (en dit daarmee gepaard) nooit wou misloop nie.

Die afgelope 35 jaar het daar nie een dag verbygegaan waartydens jou leë plek nie deel van my wese was nie. Op heuglike dae moes jy hier gewees het om in die vreugde te kon deel. Op dae van hartseer en terleurstelling wou ek uitroep: “Kom troos my teen die pyn!”

In die vyf-en-dertig jaar wat verbygevlieg het, het dinge verander. Broer en jou maats is middeljarig en elkeen het ’n eie koers ingeslaan. Die lewe het vir sommige ’n goeie hand gedeel, ander moes maar die pak slae vat wat na hulle kant toe gekom het. Van hulle woon vandag regoor die wêreld, want die Suid-Afrika wat jy 1985 agtergelaat het, het ’n onherkenbare plek geword

Taalaktiviste het ten bloede toe teen die prikkels geskop, maar ons land het verengels – Finish en klaar! Afrikaanse byvoeglike naamwoorde is verskraal tot “awesome en amazing”. Die amptelike taal is nou se dae “Swak Engels”.

Daarmee saam het ’n klomp nuwe begrippe posgevat waarvan jy g’n idee sou hê nie. Wat sal jy nou verstaan van Google, GPS, internet, kunsmatige intelligensie, aardverwarming of selfone? Nou praat ons nie eers van staatskaping, kaderontplooiing of regstellende aksie nie. Wat wed ek jou jy sou g’n idee gehad het van wat vir ’n ding ’n Gupta is nie …

Jaarliks, rondom jou verjaarsdag, is daar  maats, familie en kennisse – wat net kontak om te sê: “Ons het Annemarie nie vergeet nie”.

Soos Nat King Cole sing: “Unforgetable, that is what you are …”

Jou geite, hebbelikhede en streke is lankal vergewe en vergeet. Jy was ’n vrot verloorder en gevolglik ’n kroek met bord- en kaartspeletjies. Omdat jy slim en bekkig was, behoort die trofeehouer as back chatter nog steeds aan jou. Broer moes ook maar sy storie ken om die mas teen jou op te kom.

Maar wat ons koester en mis, is jou lag, jou humor en die vreugde wat jy gebring het. Skoolmaats vertel steeds dat daar baklei is oor wie langs jou mag sit, want “die een wat langs Annemarie sit, gaan heeljaar lag”.

Ek en Pappa het dikwels opgemerk: “Hierdie kind is in die Moedersbond omgeruil. Sy het meer grysstof as ons twee tesame …”

In die 35 jaar van jou afwesigheid het die lewe voortgesnel.

Pappa is nog steeds lief en verstrooid (dalk meer as toe jy nog hier was). En jou ma is (volgens die twee mansmense in die huis) nog steeds kwaai – glo meer as tevore … Ons het verhuis, gereis en selfs ernstige gesondheidskrisisse beleef. Mense wat jy geken en lief gehad het is begrawe, maar in hulle plek is nuwes   gebore wat jy nié geken het nie. In die familie het sukses en terleurstellings, prestasies en skandes mekaar afgewissel. Daar was goeie en nie-so-goeie gebeurtenisse. Egskeiding en gesinsverbrokkeling het ongevraagd ons gemaksone binnegedring. Daar was die selfdood van ’n bloedjong familielid, maar toe was jy nie meer deel van ons beleweniswêreld nie.

Ons woon deesdae in die aftreeoord – Ek mis dit dat jy nooit deel van hierdie tuiste was nie. Flitse aan jou is verbind aan ander plekke. Jou blondekop en maroen skoolrok assosieer ek onlosmaaklik met ons ou huis. Jy is verweef in   anekdotes van die twee jaar wat ons in die buiteland gewoon het. Jy is ingemessel in die onthoue rondom die vakansiehuis op Scottburgh. Die dag toe elkeen van dié eiendomme uitgefaseer is, is nog ’n voetspoor van jou doodgevee.

Ons beleef die genade van ouer word, meegesleur op die vervoerband na uiterlike verwering, mankolieke liggame en kognitiewe uitrafeling, – die onontwykbare realiteit.

Die enigste voordeel (?) van jou as vroeggestorwene, is dat herinneringe aan jou altyd dié van ’n veertienjarige, skerpsinnige en aantreklike jong dogter sal wees.  Niemand gaan jou onthou as ’n verrimpelde, inkontenente, half-kop ouvrou met spatare en hang-tieties nie. Soos ydele jongmense graag kwytraak: “Die young and have a beautiful body …”

Annemarie, in die leë dae probeer ek my verlange stil deur jou latere lewe te idealiseer. Ek visualiseer jou lewe sou deurspek wees van goedheid en guns:  Liefde, sukses en prestasie sou jou toebedeel wees. Deure sou voor jou besondere persoonlikheid en talente oopspring. Pyn, eie aan die lewe, sou jou gespaar gewees het.

Jou man sou prima genetiese materiaal wees: Aansienlik, karaktervol en intelligent – g’n tabakasem, geweldadige vuiste, voorliefde vir ’n dop of ’n dwalende oog vir hom nie. (Om alles te kroon sou hy sy skoonma op die hande dra).

Jou kinders sou voorbeeldig, talentvol, goedgemanierd, en gestroop van tienertwak wees. Geeneen van hulle sou ongeneeslike siektes opdoen en jonk sterf nie. (En hulle sou dink hulle ouma is cooler as cool).

Bowenal weet ek jy en jou huis sou die Here dien.

Annemarie, ek sal nooit regtig vrede hê oor hoekom jy so vroegtydig moes weggaan nie – om die waarheid te sê, ek is kwaad omdat jy nooit gegun is om jou potensiaal te bereik nie. Jy het die pret van die lewe misgeloop.

Op die donkerste van donker dae kry ek myself jammer en voel dit die lewe het my ’n vuil steep getrek. Ek raak sommer ongedurig omdat jy my gedrop het.  Het jy nie geweet jy was veronderstel om mý te begrawe en nie andersom nie?  Jy moes mý oë toegdruk het en ek nie joune nie.

Na jou weggaan is ek toegegooi met goedbedoelde rommel-teologie:

“Die Here pluk altyd die mooiste blommetjies vir sy tuin …

Jy is uitgekies omdat Hy weet jy is sterk genoeg om dit te kan dra …

Alles gebeur altyd ten geode …

Eendag gaan jy alles verstaan …”

Ek kon my troos vind in Stephan Joubert se woorde: “God se grootste antwoord is Hy self. In Hom vind sy kinders rus. By Hom is daar vrede”.

Hierdie vrede het ek en jy in jou laaste dae saam beleef. Die skaduwee van die dood het vir twee jaar oor ons gesin gehang, maar genade en liefde het ons elke dag gedra. Die finale oomblik wat ek só gevrees het, was toe waardig en goed.  Die oggend van jou vertrek kon ek jou sê: “Sussie, jy gaan nie gesond word nie. Dit raak nou te moeilik vir jou. Ek gaan jou mis en sal jou nagedagtenis tot my laaste dag koester, maar jy is vry om na Jesus te gaan,

Die aand het jy in ’n koma versink waaruit jy saggies die grens oorgesteek het.

Ek glo dat, die dag as ek mý gees aan God sal teruggee, sal jý daar wees om my te verwelkom. Jy moet groot asseblief my hand styf vashou as ook ek die Groot Onbekende betree. (Soos ek aan jou voet gevat en stories vertel het teen die engtevrees in die Magnetiese Resonansie skanderingstonnel).

Ek aanvaar ons gaan verheerlikte liggame hê, anders sou jy sekerlik sê: “Jig Ma, jy het darem oud en lelik geword sedert 1985!”

Liefde

Ma- Elsa


MY STORIE maak deel uit van ons gemeente se skryfprojek.  Skuilkrans NG Gemeente glo in die belangrikheid van elkeen se storie.  Dit is ten diepste ‘n getuienis van hoe God in jou lewe werk en dit versterk die liggaam van Christus.  Deel gerus jou storie deur dit te stuur aan Annabelle by kleingroep@skuilkrans.co.za   ‘n Foto of prentjie is ook welkom.

My Storie is ‘n skryfprojek in samewerking met ons Leef Weer Trauma en Beradingsentrum.  Leef Weer Trauma  is n beradingsentrum wat gratis berading gee aan die gemeenskap en aan gemeentelede.  Kontak ons gerus by 063 712 6346 indien jy met iemand wil praat oor enige trauma of krisis.

Terugvoer...

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s