Lydenstyd te midde van die Corona-virus

aaron-burden-b9drVB7xIOI-unsplash

Deur Daantjie Badenhorst

Baie mense glo dat ‘n mens opofferings moet maak in die tydperk van sewe weke tussen Aswoensdag en Paasfees om met Jesus se lyding en kruisiging te identifiseer.

Ek moet eerlik wees; ek het nog nooit werklik daaraan geglo nie. Ek het nog altyd voortgegaan met my normale lewe; nie omdat ek my nie daarmee vereenselwig nie, maar omdat sulke “rituele” nie vir my belangrik is nie. Vanjaar het die Corona-virus die hele wêreld egter tot stilstand geruk, en ons word gedwing om, tydelik of permanent, van sekere dinge afstand te doen, of ons wil of nie.

Die belangrikste hiervan, glo ek, is die gemeenskap van die gelowiges. Vroeër jare was jy elke Sondag in die kerk; daar is nie daaroor gepraat of geredeneer nie. Soms verhinder omstandighede my om eredienste by te woon, maar dit is die uitsondering eerder as die reël. Wanneer dit egter vir my moontlik is, woon ek twee eredienste op ‘n Sondag by; veral omdat die oggend- en aanddienste radikaal van mekaar verskil en ek glo dat daar plek vir klassieke- en kontemporêre musiek in die kerk is, en behoort te wees. Ek dink in elk geval dit is uiters belangrik om eredienste by te woon, nie om gesien te word nie en nie omdat dit “die regte ding is om te doen” nie. Nee, ons moet gaan om die Here te loof en te aanbid en om na sy Woord te luister. Ons moet ook dit wat ons gehoor het, elke dag in ons lewens toepas. Ek kyk nie na uitsendings van eredienste op televisie nie, omdat ek glo dat gelowiges eerder bymekaar moet kom.

Die hartseer gevolg van die Corona-virus is egter dat sekere byeenkomste wat beplan is, gekanselleer is; sommige daarvan was jaarlikse instellings en baie mense het daarna uitgesien. Só was daar duisende jongmense wat Voortrekkerkampe sou bywoon, maar dit nie meer kan doen nie. Die ergste van alles is dat sommige mense afhanklik is van byeenkomste van ‘n honderd mense of meer om ‘n inkomste te verdien. Die feit dat soveel konserte gekanselleer is, beteken dat kunstenaars nie die inkomste sal kan verdien waarop hulle staatgemaak het nie, en dat musiekliefhebbers langer sal moet wag om hulle te sien optree. Daarby kan sportbyeenkomste  voortgaan nie; alle rugby en krieket is gestaak en nugter weet of, en indien wel wanneer, vanjaar se Formule 1-seisoen gaan begin. Dis maklik om dit alles te “vergeestelik”; baie mense sê dat dit God se manier is om te sê dat mense van hul “afgode” moet afstand doen en hulle moet verootmoedig. Dis snert. Die mens is nie gemaak om net ‘n geestelike wese te wees nie en buitendien het ons lank al weg van die Calvinistiese oortuigings van vroeër jare beweeg.

Die gevolg is nou dat mense al hoe meer in “selfisolasie” verkeer; hulle maak met niemand kontak nie omdat hulle bang is dat hulle besmet sal word. Soos die Noord-Sotho-spreekwoord lui: “motho ke motho ka batho.” (‘n Mens is ‘n mens deur ander mense), en daarom is dit nie goed om alleen te wees nie. Daar is soms tye wanneer dit nodig is om jouself met jou eie dinge besig te hou, maar soms wil ‘n mens interaksie met ander mense hê. Ek is ‘n fisiese kontak-mens; ek groet my mansvriende, familie en ander mense wat ek goed ken, met die hand en ek gee vir my vriendinne drukkies. Dit is ironies omdat ek vroeër jare daarvan weggeskram het. Daarby is daar ouers wat voltyds werk en nie weet wat met hul kinders te doen nie, as gevolg van onsimpatieke werkgewers wat hulle dwing om op kantoor te wees.

Op ‘n manier het die Corona-virus gemaak dat die hele wêreld ‘n vorm van lydenstyd beleef. Dit het ons ook geleer dat ons niks as vanselfsprekend moet aanvaar nie: soos John Lennon gesê het: “Life is what happens when we’re making other plans.” Ek glo egter dat God in beheer is, en hoewel ‘n mens steeds verantwoordelik moet optree en alles moontlik moet doen om te keer dat die virus versprei, sal Hy alles ten goede laat meewerk.


MY STORIE maak deel uit van ons gemeente se skryfprojek.  Skuilkrans NG Gemeente glo in die belangrikheid van elkeen se storie.  Dit is ten diepste ‘n getuienis van hoe God in jou lewe werk en dit versterk die liggaam van Christus.  Deel gerus jou storie deur dit te stuur aan Annabelle by kleingroep@skuilkrans.co.za   ‘n Foto of prentjie is ook welkom.

My Storie is ‘n skryfprojek in samewerking met ons Leef Weer Trauma en Beradingsentrum.  Leef Weer Trauma  is n beradingsentrum wat gratis berading gee aan die gemeenskap en aan gemeentelede.  Kontak ons gerus by 063 712 6346 indien jy met iemand wil praat oor enige trauma of krisis.

Terugvoer...

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s