My Storie: MOET NOOIT OPHOU BID EN GLO NIE!

jackie se storie

Deur: Driekie Grobler

Sewe-en-twintig jaar gelede het die Here (onverwags en ongevraagd) dit goedgedink om ʼn erg vernielde, verwaarloosde driejarige dogtertjie aan ons sorg toe te vertrou. Die maatskaplike werkster se woorde was:

“Mevrou, jy sal haar nooit met jou eie kinders kan vergelyk of dieselfde verwagtings vir haar koester as vir hulle nie, want sy is ʼn beskadigde kind.”

As eenjarige is sy uit haar eie ouers, wat dagga- en drankverslaafdes in ‘n saamleefverhouding was, se sorg verwyder – erg ondervoed, verwaarloos en mishandel. Hulle het haar as baba drank gevoer om haar stil en uit die pad te kry wanneer sy huil van honger of vir aandag. Hulle het ook ʼn bordeel bedryf aan huis en sy is toegesluit in ‘n klein kamertjie met net ‘n matras en kombers. Nadat haar geval onder die welsyn se aandag gekom het is sy verwyder en in pleegsorg geplaas. Binne twee jaar was sy in ses verskillende pleegsorgplasings voordat die Here dit goedgedink het om haar in my skoot te kom neersit.

Dit was ‘n Donderdagoggend, in Oktober, toe ek onverwags by die werk ‘n oproep ontvang van die maatskaplike werkster wat my meedeel dat hulle pas ‘n tweejarige dogtertjie verwyder het uit pleegsorg en dringend vir haar ‘n huis soek. Ek was onkant gevang en het dadelik kapsie gemaak, veral toe ek hoor dit is ‘n dogtertjie en sy is amper drie jaar oud. Ons eie kinders was albei reeds in die skool en ek en my man het voldag gewerk. Al die gevare, soos ‘n swembad by die huis wat nie omhein is nie, ens. het in my gedagtes opgespring. Na my gesprek met die maatskaplike werkster, het ek my man gebel en vertel van die oproep en hy het ook dadelik kapsie gemaak en gesê dit sal nie werk nie.

Ek wil net noem dat ons wel op daardie stadium gekeur was as pleegouers, na aanleiding van ‘n versoek om pleegouers in die plaaslike koerant, ons was woonagtig in Carletonville. Ons oudste dogter (wat haar gehoor verloor het op 18 maande a.g.v. breinvliesontsteking) was in Pretoria in die koshuis by Transoranje-Skool vir Dowes en het net naweke huis toe gekom. Ons seun, toe in graad 2, het dus soos ‘n enigste kind grootgeword, was alleen deur die week en daarom het ons dit goedgedink om onsself beskikbaar te stel as pleegouers vir ‘n seun, ongeveer dieselfde ouderdom as ons seun. Daar was twee bedjies in my seun se kamer, maar slegs een bed in ons dogter se kamer. Ons wou ook nie hê ons dogter moet dink ons vervang haar nie, daarom was ons versoek eerder vir ‘n seuntjie vir pleegsorg.

Na die gesprek met my man het ek die maatskaplike werkster laat weet dat ons ongelukkig nie kans sien vir so ‘n klein dogtertjie nie en probeer aangaan met my werk. Waar God egter in werking is word verskonings nie aanvaar nie. Ek het bitter moeilik gekonsentreer op my werk vir die res van die dag. Na etenstyd bel ek toe weer die maatskaplike werkster om te hoor of sy al ‘n geskikte huis vir die kind gekry het. Haar antwoord was “nee” en op die ingewing van die oomblik bied ek aan dat ons haar in ‘veilige bewaring’ sal neem vir die naweek, aangesien dit toe reeds Donderdag was, dan gee dit haar kans om vir haar ‘n geskikte huis te soek. Ek bel my man en hy stem gelukkig in met hierdie reëling.

Die middag, na werk, moes ek haar by die welsynskantoor gaan haal. Toe ek instap en my oë op die klein, tingeringe, verwaarloosde mensie, met die te groot blomrokkie en dolleë ogies val, het ek ‘n gevoel gekry dat sy gekom het om te bly. Ook het ek besef hier lê ‘n moeilike taak voor. Hóé moeilik sou ek nooit tóé kon raai nie, anders het ek net daar omgedraai en weggehardloop.

Die afsydigheid en afwesigheid in haar houding en menswees het na ‘n paar maande verdwyn en plek gemaak vir woede teenoor alles en almal om haar. Sy het die hele wêreld gehaat en verwoed baklei teen enige vorm van liefde, gesag, dissipline, ens. Dit was met tye só erg dat ek eendag op my knieë neergeval en God gesmeek het om ‘n liefde in my hart te plaas teenoor haar asof sy uit my eie skoot gebore is, anders gaan ek dit nie kan volhou nie.

Nes ek dink ek verstaan hoe haar kop werk, gebeur daar weer iets wat die mat totaal onder my voete uitpluk. Ek het egter van die begin af deeglik besef dat God haar met één doel vir my gegee het, en dit is om haar aan Hom vas te anker. Daar was goeie tye en slegte tye. Die slegte tye ongelukkig meer as die goeie tye. Sy het my op my knieë gehou en ek moes telkens by die Here se voete gaan lê vir krag, moed, insig en wysheid.

Eendag, tydens ‘n Vrouekamp, het ‘n vrou na my toe gekom (wat ek van geen kant af ken nie) en gesê die Here wys vir haar dat ek besig is om teen ‘n steil leer op te klim met ‘n kind op my rug. Dat ek besig is om tam en moeg te word, maar dat ek nie moed moet opgee nie. Ek moet net boontoe kyk en aanhou klim, trappie vir trappie. Eendag sal ons wel bo uitkom en dan sal ons sweef soos arende.

In haar tienerjare het sy totaal die pad byster geraak. Verkeerde vriende, satanisme en dwelms het deel van haar lewe geword. Niks wat ons doen of sê het enige impak gemaak nie. Sy was op ‘n pad van selfvernietiging en het onhanteerbaar geword. Dit het ons gesin geweldig skade aangedoen. Die situasie is tot ‘n punt gedryf waar ons voor ‘n keuse te staan gekom het; óf ons hele gesin gaan saam met haar ten gronde, óf sy word verwyder en in ‘n tehuis van veiligheid geplaas waar sy onder streng toesig kan wees. Saam met die maatskaplike werkster is op die tweede opsie besluit. Hoe moeilik dit ookal was, dit was beslis haar redding. Vir ‘n jaar lank mag ons geen kontak met haar gemaak het nie. Ek het egter nooit ophou bid nie en gereeld die huistannie gebel om te verneem hoe dit met haar gaan en of sy iets nodig het.

Aan die einde van haar matriekjaar het sy teruggekom huis toe. Alhoewel sy toe kalmer en rustiger was, en ons om verskoning gevra het oor al die nonsens wat sy aangevang het, het die ou (verwonde) mens van tyd tot tyd weer deurgeslaan en kon die onrus in haar steeds waargeneem word. Sy is later getroud (met ‘n man wat ek van die Here afgebid het, wat haar aanvaar net soos sy is) en is vandag mamma van vier pragtige kleingoed.

Verlede jaar het sy d.m.v. Facebook haar biologiese/half sussies (haar ma was voorheen getroud en het vier dogters gehad) opgespoor, en deur hulle ook kontak kon maak met haar biologiese pa. ‘n Ontmoeting is gereël, en alhoewel sy verkies om nie verdere kontak met haar biologiese pa te hê nie, het dit ‘n mate van berusting by haar gebring. Haar ma is oorlede sonder dat sy ooit die voorreg gehad het om haar weer te ontmoet.

Die werklike genesing en verskil het egter ingetree toe sy uiteindelik (na jare se gebede) weer haar pad na die Here gevind het. Op 10 November 2019 (3 dae voor haar 30ste verjaarsdag) het sy my genooi en het ek die wonderlike voorreg gehad om te sien en te beleef hoe sy die ou, vernielde lewe, finaal aflê deur haarself te laat her-doop, sodat sy as ‘n nuwe skepsel in Christus kan voortlewe.

Sewe-en-twintig jaar se trane en smeekgebede is uiteindelik verhoor. Dit was ‘n heuglike dag met oorloop-emosies. Alle lof en eer aan ons Skepper Heer! Hy het al die jare presies geweet waarheen Hy met elkeen van ons op pad was.

Dankie, Hemelse Vader, ons hét toe die bo-punt van hierdie steil leer bereik! Sonder U hulp en genade sou dit nooit moontlik gewees het nie.

Moet nooit die krag van gebed onderskat nie. God se tyd is altyd die perfekte tyd.

WHAT A MIGHTY GOD WE SERVE!

 

(ʼn Gedig uit my debuut-bundel Hartsnare)

 

My lot, Genade van God

Met trane het ek gesaai,
die skouersak soms té swaar gelaai.
Nes ek dink ek begin wen,
draai die wind
en moet ek oor begin.

Langsamerhand het ek geleer
om weer en weer te probeer,
nooit in moedeloosheid op te gee.
Kies kan mens ongelukkig nie,
jou deel word uitgemeet, sonder om te bie.

Nagte deur het ek geween,
by God gepleit vir genadereën.
Die las soms vir my te groot
en ek, hopeloos te broos en swak.
Dalk het ek makliker verwag.

Met heelwat deursetting
beslis nie uit eie wil of vermoë,
het die jare blitsig aangestap.
My hoop het mettertyd gegroei
en ek ophou huil en stoei.

Vandag staan my gerwe geil,
ʼn kroos wat ek vir niks sal verruil.
Die saad het tóg in vrugbare grond geval,
my groen koring is nou ryp
en ek, oor geen moeite en swaarkry spyt.

Dit was my lot –
suiwer genade van God.

 

©Driekie Grobler


MY STORIE maak deel uit van ons gemeente se skryfprojek.  Skuilkrans NG Gemeente glo in die belangrikheid van elkeen se storie.  Dit is ten diepste ‘n getuienis van hoe God in jou lewe werk en dit versterk die liggaam van Christus.  Deel gerus jou storie deur dit te stuur aan Annabelle by kleingroep@skuilkrans.co.za  Nie meer as 400 woorde en ‘n foto of prentjie is ook welkom.

My Storie is ‘n skryfprojek in samewerking met ons Leef Weer Trauma en Beradingsentrum. 

Leef Weer Trauma en Beradingsentrum is n beradingsentrum wat gratis berading gee aan die gemeenskap en aan gemeentelede.  Kontak ons gerus by 063 712 6346 indien jy met iemand wil praat oor enige trauma of krisis.

Terugvoer...

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s