My Storie: ‘n Verhaal van geloof, hoop, vertroue en genade ver bo verdienste

IMG_2329

Deur: Marie-Leen Rossouw-Liebenberg

My eerste kennismaking met kanker

In Februarie 2000, voel ek ʼn knoppie, so groot soos ‘n ertjiepit, in my regterbors terwyl ek my afdroog. Ek hou dit stil, maar maak dadelik ʼn afspraak met die ginekoloog. Hy was baie verbaas om my te sien, aangesien ek in November 1999 by hom was vir al die nodige ondersoeke en toetse. Hy het my verseker dat dit niks ernstig is nie. Omdat ek my pa in 1991 aan borskanker verloor het, het ek aangedring op verdere toetse. Op skrikkeldag 2000, het die chirurg ‘n billaterale mastektomie gedoen.

Nou het ek met die Here begin onderhandel soos Hiskia van ouds. My jongste kind, Chris, was in standerd ses, die oudste een, Elmien, eerste jaar op universiteit, ek was baie gelukkig getroud en het baie lekker gewerk by CMR( Christelik-Maatskaplike Raad). Ek was nie gereed om totsiens te sê nie.

Toe die uitslae van die toetse kom, was daar geen verspreiding nie, loof die Here! Ek het vir twaalf maande chemoterapie gekry. Gedurende hierdie tyd gebruik die Here my om vir Hom te getuig. Baie mense wou weet hoe ek so positief en opgeruimd kon wees. My standaard-antwoord was dat dit van die Here Jesus Christus af kom. Ek het elke oggend, voordat ek my voete van die bed afgesit het, gevra dat ons Hemelse Vader my net vir daardie dag sal dra en in die holte van Sy hand sal hou. Die laaste dag wat ek chemoterapie gekry het, het die onkoloog vir my gesê dat hy weer wil hoor hoekom ek nie met ʼn lang gesig rondloop nie en dat ek altyd positief is. Ek het hom weer geantwoord (soos soveel kere vantevore) dat die Here Jesus Christus elke tree saam met my stap. Die dokter, ‘n Ortodokse Jood, antwoord my deur te sê; as ek vir hom sê daar is ʼn Here Jesus Christus, moet hy my glo, want hy sien Hom in my. Ek het my oë toegemaak en die Here geloof en prys.

Dit het so goed met my gegaan dat ek voortgegaan het met my werk by CMR en my huishoudelike take sonder hulp gedoen het.

Ek is, wat die borskanker aanbetref, 20 jaar gesond.

My tweede en derde rondte met kanker

Toe kom Paasnaweek 2014, en ek kry ʼn ontsettende pyn in my sy. Van dokter, tot onkoloog, tot chirurg. Twee operasies later, word vasgestel dat ek Non-Hodgkins – Groot sel B Limfoom – het.  Hierdie keer is die behandeling baie strawwer en kan ek, in die week wat ek behandeling ontvang het, nie gaan werk nie. Ek het op Woensdae behandeling gekry en het dan eers weer die Maandag teruggegaan werk toe. Ek het vir agt maande chemoterapie gekry en die kanker was in remissie.

Paasnaweek 2015, was dieselfde kanker weer terug. Ek is na Pretoria-Oos Hospitaal verwys. Die onkoloog het aan my verduidelik dat my enigste keuse ʼn stamseloorplanting is. Chemoterapie sou nie hierdie keer werk nie. In Meimaand het die dokters begin om my voor te berei vir die oorplanting. Die chemoterapie was baie sterk, en vir die tweede keer het ek net soos Nataniel gelyk. Nie so stunning en sexy nie, maar net so ʼn kaalkop. Hierdie keer moes ek in die hospitaal bly twerwyl ek chemoterapie gekry het. Ek is dikwels Donderdag ontslaan en was weer Dinsdag terug in die hospitaal om bloed en bloedplaatjies te kry. Ek het nog vir ʼn paar maande teruggegaan werk toe, maar was later te swak om verder te werk.

Die dokters was bang dat ek te oud is om my eie stamselle te gebruik en dat daar vir ʼn skenker gesoek moes word. Weer het ek die grootheid van die Here aanskou. My stamselle is geoes en dit was een-en-ʼn half keer meer as wat verwag is en wat nodig was. Die dokter het ook voorspel dat dit oor twee dae geoes moes word, maar dit was nie nodig nie. Dit is in een sessie gedoen.

Voor die oorplanting moes ek bestraling kry en nog sterker chemoterapie. Na die oorplanting het ek weer baie sterk chemo gekry. Nou was ek baie moeg. Op die twintigste dag, na die oorplanting, het ek handdoek ingegooi. Ek kon net bid. My oë was só aangetas van die chemo, dat ek nie kon lees nie. Ek het die Here gesmeek om my te kom haal. Ek was so moeg, dat selfs asemhaal moeite was. Daardie nag het ek ʼn visioen of droom gehad. Ek het in ʼn woud met die hoogste groen bome gestap. Die bome se toppe het ʼn koepel gevorm, en uit die koepel het ʼn verblindende lig gekom, baie skerper as die son. Uit hierdie verblindende lig, het ʼn stem gekom wat die volgende gesê het: “My kind, Ek kom jou nie nou al haal nie.” Net daar het ek weer my greep op die lewe gekry. Die derde dag na die droom, was ek weer by die huis. ʼn Vriendin van my het opgemerk: “en die derde dag was Hy uit die graf.”

Ek was onlangs by die onkoloog. Hy het my op en af bekyk en vir my gesê: “Ek kan nie glo wat ek sien nie. As ek dink hoe ons gesukkel het om jou weer aan die gang te kry en kyk hoe lyk jy nou!”

Genade en nogmaals genade! Ons aanbid die enigste ware lewende God.


MY STORIE maak deel uit van ons gemeente se skryfprojek.  Skuilkrans NG Gemeente glo in die belangrikheid van elkeen se storie.  Dit is ten diepste ‘n getuienis van hoe God in jou lewe werk en dit versterk die liggaam van Christus.  Deel gerus jou storie deur dit te stuur aan Annabelle by kleingroep@skuilkrans.co.za  Nie meer as 400 woorde en ‘n foto of prentjie is ook welkom.

My Storie is ‘n skryfprojek in samewerking met ons Leef Weer Trauma en Beradingsentrum. 

Leef Weer Trauma en Beradingsentrum is n beradingsentrum wat gratis berading gee aan die gemeenskap en aan gemeentelede.  Kontak ons gerus by 063 712 6346 indien jy met iemand wil praat oor enige trauma of krisis.

One thought on “My Storie: ‘n Verhaal van geloof, hoop, vertroue en genade ver bo verdienste

  1. Pragtige verhaal van desperaatheid, pyn, wanhoop en uiteindelik met wonderwerke tussenin oorwinning en, genesing. Die storie gee hoop aan derglike lyers (so baie) en ongelowiges.
    Die pad kon definiftief nie sonder die Here se hulp en liefde aangepak gewees het nie.
    Geniet die lewe!
    Liefdegroete,
    Mientjie Lubbe

Laat 'n boodskap na Mientjie Lubbe Kanselleer antwoord

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s