BOODSKAP van LIG en HOOP

Deur: George Lerm

Al tref ʼn tsoenami jou dag

En voel soos die donker van die nag

Of die skadu’s van die dood wat op jou wag

Weet Sy Krag en Genade is groter as groot

En dit oorwin die donker en die dood

Elke dag is ʼn nuwe dag

Daar lê Sy Genade nuut op jou en wag

Terwyl die golwe oor jou spoel

Sal Sy engele om jou woel

Hul jou hande styf vashou

En Sy Genade jou omvou

Kyk net op na Bo

In Sy Woord kan jy altyd glo

Hy sal jou nooit laat los

Al het ons sonde Sy dood gekos

Maar uit Liefde en Genade is ons verlos

Laat die golwe maar kom en gaan

In Sy Genade sal ons vas bly staan

Soos Sy Wil, word dit beaam

Sal Hy sorg dat jy nooit vergaan

Solank jy in Sy Skadu staan

Loof Hom, Prys Hom, Hy is ons Koning

Maak vandag jou hart Sy woning

Begin weer soos ʼn kind te glo

En gou-gou is jy weer bo

Sy lig sal dan oor jou skyn

En alle vrese en donker sal verdwyn

Shalom “vrede laat ek jou na

 

 

Laat in Oktober 2009, kry ek onverwagse ʼn oproep by die werk, van my toe se groot liefde, dat sy na 12 jaar ons verhouding verbreek. Dit het nie vir my sin gemaak nie, want ons het ʼn goeie langtermyn-verhouding gehad. Al probleem was, dat ek van die vrou ʼn afgod gemaak en in die proses ons Skepper verwaarloos het.

Ek was stukkend geslaan deur die verbreking van die verhouding en het, ten spyte daarvan, nie baie goed gevoel die vorige paar maande nie. Die huisdokter kon na verskeie behandelings nie vasstel wat die probleem is nie, en het my verwys na ʼn oor,neus en keel spesialis by Wilgers hospitaal. Daar is ek toe ook getoets vir, onder andere klierkoors, wat negatief getoets het. Die dokter het my opgeneem vir ʼn biopsie op kliere in my nek. Die eerste week in November 2009, kry ek die skokkende nuus dat die biopsie kwaadaardigheid uitgewys het. Dit was ʼn Vrydag-laatmiddag wat hy my ontbied het omdringend in te kom die Maandag. Die dokter verwys my toe na dr. Thompson, by die onkologie-afdeling van die Pta. Oos Hospitaal. Die eerste teken van die hand van die Here – ’n dokter van Wilgershospitaal, met ʼn eie onkologie-afdeling, verwys ʼn pasiënt na Pta. Oos hospitaal, na dr.Thompson, wat ek by 3 chemosessies in Maart,uitgevind  het hoe sterk haar praktyk op Geloof gebou is.

Dokter Thompson het al die nodige toetse laat doen, met diagnose: “jy is vrot, kyk hoe sit die kolle op die scans”, dis kanker  CLS … limfoomkanker. Ek was gebroke oor die verhouding, en toe ook nog die skokkende nuus. Ek was platgeslaan en so ook my familie. Dokter Thompson tel iets op in die patologiese verslag, en stuur my vir verdere toetse.’n Week later, net voor my verjaarsdag, hoor ek … “jy het volle leukemie ook”. Ek was verward, kwaad vir God, kwaad vir die wêreld, kwaad vir alles en almal. Ek het so met God baklei dat ek nou nog skaam kry daaroor. Hy het alle rede gehad om my nie te genees nie, maar…

Ek het November my eerste chemo gekry, ʼn voldag sessie, die eerste van 6 sessies oor ses maande. Desember, voor Kerstyd en my 2de sessie chemo, gehoor die werk kan my nie verder bekostig nie. Ek het ʼn hoë profiel pos gehad met ʼn hoë inkomste. Isoorgeplaas na ʼn afdeling waar ek op kommissie moes werk. Hoe werk mens en verdien kommissie as jy kwalik kan opstaan in die oggende, veral na die chemo? Ek kon verstaan dat hul my nie kon aanhou in ʼn pos, want dit was ʼn nuwe maatskappy en hul moes iemand in my plek kry om die operasionele pos te vul.

Voor Kersfees het ek see toe gery. Ek wou gaan vrede soek. Dit was ʼn groot fout. Ek het die pad aangepak met my chemolyf en bitter siek daar aangekom, net om na Kersfees bitter siek terug te kruie huis toe. Die leë huis, die vorige twee maande,het my teen die mure uitgedryf. Donderdagaand, 31 Desember, op oujaar was ek alleen. Ek het bitterlik gehuil, myself jammer gekry en vir God gesê: “Vat my en maak klaar, ek kan nie meer nie, ek is klaar”. ʼn Stem het tot my gespreek: “Jy is dalk klaar, maar Ek is nie klaar met jou nie…” ek het geweet dit is God.

Nuwejaar het gekom en gegaan. Sondag, 3 Januarie, beur ek met my siek lyf en stukkende hart Moreleta kerk toe. ʼn Absolute ingryping en  roepingvan Jesus gewees. Ds. Stephan Joubert het ʼnboodskap gebring oor nuwejaarsvoornemens  enmense wat daar sit en nie enige het nie. Hy sluit afmet: “Hy, wat Jesus is, nooi jou uit om elke dag saam met Hom te eet by Galilea. Hy sal die vuurtjie maak en vleisie braai.” Ek het die uitnodiging aangegryp  en God omhels as my Verlosser en Skepper. Ek het my stukkende hart en siek lyf vir Hom gegee. Ek was nog altyd ʼn kind van die Here, maar nooit werklik in verhouding met Hom nie. Op daardie dag, 3 Januarie 2010, het my verhouding met God begin.

In Januarie het ek my 3de  chemo-behandeling gekry. Ek was baie siek, en een Vrydag, in my toestand, hoor ek Sy stem heeltyd binne my dat ek na werk krieket toe moet gaan in Centurion. Dit het nie vir my sin gemaak nie en ek het gedog, wat nou? Ek is huis toe na werk en toe ek die huis binnestap, toe slaan die eensaamheid van die leë huis my tussen die oë. Ek het aaklig gevoel van die chemo, ens., maar net daar omgedraai en Centurion toe gery. Ek het myself in die paviljoen neergeplak en bitter jammer gekry. Net geweet die Titans het gespeel, teen wie, weet ek vandag nog nie, ek  het  ook nie geworrie nie, en ook nie regtig belanggestel om te volg wat aangaan nie. Met die halftydbreek, stap ek badkamer toe en hoor iemand roep my. Ek het hom ignoreer en aangestap, toe kom hy na my toe aangehardloop.Dit was ʼn oud kollega van my wat in 1980/90 saam met my gewerk het by Sanlam. Ons het gesels oor die verlede en ek het niks genoem van my siekte en dinge nie, hy met sy biertjie in die hand en ek met die chemo in die lyf. Skielik raak hy doodstil en sê: “Kyk die hoendervleis op my arms. Dit is nie nou ek wat met jou praat nie, dis die Heilige Gees wat sê ek moet vir jou sê jy moet aangaan met jou lewe. Jy moet daai vrou agter jou sit en aangaan.” Ek het Sy teenwoordigheid aangevoel en ervaar. Dankie, Nic van Rensburg, dat jy gehoorsaam was. Nou weet ek hoekom ek krieket toe moes gaan. God het daar my einas van my hart begin genees, op ʼn baie merkwaardige manier. 

Tussen my 3de en 4de chemo-sessies, is ek een Sondagaand kerk toe. Ds. Pieter het ʼn diens gelei in die mini oudit. Ek was te siek vir die diens in die groot ouditorium, tussen al die jongmense, en het na die oumense se diens toe gegaan. Ds. Pieter se boodskap het oor gevreesde siektes, stress, kanker, ens. gegaan. Ek het die hele diens deur gehuil soos ʼn babatjie en kon nie ophou nie. Ek het naderhand gebid dominee moet klaarkry, dat mense kan loop,sodat ek kan uitgaan, want ek het  te skaamgekry om op te staan en uit te loop. In ʼn stadium het ek my oë oopgemaak en gesien die mense begin uitbeweeg. Ds. Pieter het voor in die kerk gestaan en vir my gewink om nader te kom. Ds. Pieter het my gevra wat aangaan met my. My antwoord was dat ek stukkend is en besig is om dood te gaan. Hy het sy hande op my gesit en vir my begin bid. Ek het bewus geraak van ʼn dame wat haar arm ook oor my skouer gesit het, weet nie wie dit was nie, maar die engel van Hom was ook daar. Die trane het vrylik gevloei en ek het bitterlik gehuil. Ek het die krag van die Here, en Sy teenwoordigheid, intens ervaar.

Tydens my 4de chemo, sê dr. Jackie vir my ek moet so ʼn paar dae voor die 5de chemo, eers weer kom om al die toetse te laat doen, scans, beenmurg, ens. ens. Toe ek vir haar sê ek verstaan nie, sy het dan gesê ons toets eers weer na die 6de chemo, was haar woorde: “Bly stil en doen wat ek sê.” (min het ek geweet dat die Here vir haar moes gesê het;toets die man, hy is skoon, Ek het Hom genees.)

 

Ek is toe ʼn paar dae voor die chemo deur die aaklige toetse en scans. Het die oggend vroeg toe met die chemo begin en die middag was my tyd vir die afspraak met dr. Jackie. Met die drup agterna, is ek by haar spreekkamer in. Haar woorde sal ek nooit vergeet hie  “Ek het vir jou goeie nuus. Jou kliere is skoon, jou bloed is skoon.” Die trane het gevloei,en ek kon net die woorde uitkry – “dankie, Here”. Ek het opgestaan, my drup gevat en op my chemostoel gaan neerval in trane. Die dokter het agterna gekom net om te kom sê: “Jy moet net jou 6de sessie chemo-behandeling ook kom klaarmaak, net om seker te maak indien daar ʼn paar wegkruipselle is, sodat dit ook vernietig word.”

Ek het net besef die Here se hand was deur alles daar, dié dat ek by dr. Jackie geland het vir behandeling, dat ek krieket toe moes gaan, dat Hy ʼnGod van Sy woord is, en my genees het die aand onder gebed en smeking van ds. Pieter Badenhorst, in die mini oudit. Daardie aand het Hy alle kankerselle in my vernietig. Meimaand vanjaar,is ek al 5 jaar skoon, skoon, skoon. Dankie Jesus,dankie vir die wonderwerk in my lewe!

Vir 6 maande daarna, moes ek dit rustig vat sodat al die chemo en dinge uit my liggaam kan uitwerk. Ek mag nie oefeninge doen nie, moet dit rustig vat,sodat my liggaam kon herstel. In Oktober, dieselfde jaar, het ek met my afgetakelde, onfikse lyf, vir 13 km. die Zambezi by Vic Falls “riverraft” gedoen. Dit was die eerste keer in my lewe wat ek so iets doen, maar ek wou aan die wêreld bewys, maak nie saak wat ander sê nie, God is in beheer! Hy is ʼn God van Genade, ʼn God van Liefde.

Hy is die groot Geneesheer. Dieselfde man wat in die dal van doodskaduwee was, wat almal gedink het dit is verby met hom, wat besig was om te sterf onder die kanker, dieselfde man vir wie alles en almal mee klaar was, maar  vir God was dit nog nie klaar nie. Hy het dieselfde man in staat gestel omdie magtige Zambezi aan te durf, uit Sy liefde en genade.

Deur die hele worsteling en stryd, was die boodskap My Genade is genoeg vir jou.” soveel keer by my tuisgebring. Ek het dit destyds met my bewerige hand op ʼn swartbordjie geskryf, waar ek dit daagliks raakgesien het, en ek het daaraan vasgeklou nadaai nuwejaar. Vandag weet ek, ten spyte van wat,Sy Genade is genoeg vir ons. Al die lof en al die eer kom Hom toe. Ek dank en eer ons Almagtige God vir die tweede kans. Dankie, Jesus, dankie, Jesus! As daar een ding is waaroor ek in my lewe spyt is, is dit dat ek nie vroeër in my lewe in verhouding met God was nie. Ek het soveel seëninge gemis, en aan almal daarbuite, kan ek sê – daar is niks méér werd as ʼn verhouding met God nie, niks  niks … niks …

Die dokter van Wilgers, en dr. Jackie Thompson, my oudkollega Nic van Rensburg, ds. Pieter Badenhorst, baie, baie dankie vir julgehoorsaamheid, en aan my familie, dankie vir jul ondersteuning.

Jesus Liefde.

 

 

MY STORIE, maak deel uit van ons gemeente se skryfprojek. Skuilkrans NG Gemeente glo in die belangrikheid van elkeen se storie. Dit is ten diepste ʼn getuienis van hoe God in jou lewe werk, en dit versterk die liggaam van Christus. Deel gerus jou storie deur dit te stuur aan Annabelle by kleingroep@skuilkrans.co.za. Nie meer as 400 woorde nie en ʼn foto of prentjie is ook welkom.

My Storie is ʼn skryfprojek in samewerking met ons Leef Weer Trauma en Beradingsentrum. 

Leef Weer Trauma en Beradingsentrum is ʼnberadingsentrum wat gratis berading gee aan die gemeenskap en aan gemeentelede. Kontak ons gerus by 063 712 6346, indien jy met iemand wil praat oor enige trauma of krisis.

Terugvoer...

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s